VRYSTAAT – ‘n Kop van ‘n liggaam wat na ‘n soektog gevind is, het tot die inhegtenisneming van ses verdagtes tussen die ouderdom van 17 en 29 jaar gelei. Die verdagtes is vermoedelik by vier moorde in die Selosesha/Botshabelo-area betrokke waarvan vier liggame afsonderlik vanaf 22 Januarie naby mekaar gevind is.
Brig. Motantsi Makhele sê die opvolg van inligting tydens die soektog het die polisie na die vermiste kop gelei waar dit onder ‘n boom gelos is, nie ver van waar die liggame gevind is nie.
Vier liggame is onlangs by die Seponerivier gevind. Die kop van een van die liggame was vermis. Die liggame van die twee oorlede mans en twee oorlede vroue het almal steekwonde gehad en was nie ver van mekaar nie, in ‘n stroom wat in ‘n digbeboste area aan die anderkant van die N8 langs ‘n spoorlyn loop, gelos.
Makhele sê ondersoekers het onverpoos gewerk totdat die ses verdagtes vasgetrek is en vandag in die Selosesha-landdroshof verskyn het. Die verdagtes staan tereg vir vier moorde, roof, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en besit van vermoedelik gesteelde goedere. Die ondersoek is in ‘n kritieke stadium en die verdagtes se name word weerhou.
Formele borgtogaansoek vir die verdagtes sal op 23 Februarie plaasvind.
Enigiemand met inligting kan kol. Bolsiek by 082 466 8530 bel.
