OOS-TRANSVAAL – Alli Banda (34), Bongani Ndlovu (47) en Siyabonga Dlamini (40) het gister op aanklagte van die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig, besit van implemente waarmee ingebreek kan word, sowel as die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die Volksrust-landdroshof verskyn. Die hofsaak is tot Maandag uitgestel en al drie die verdagtes bly in aanhouding.
Kol. Donald Mdhluli sê die Volksrust-polisie het inligting ontvang van drie verdagtes wat Woensdagoggend vroeg na bewering ‘n huisroof in Newcastle gepleeg, die slagoffer geskiet en sy wit Honda Civic gesteel het. Polisielede het die voertuig met drie insittendes op Volksrust opgemerk en voorgekeer. Tydens deursoeking is ‘n gelaaide 9 mm Norinco-pistool, inbraak-implemente, onder andere ‘n breekyster en slypmasjien, ook glo in die verdagtes se besit gevind. Die drie mans is in hegtenis geneem en aangekla.
Mdhluli sê die verdagtes sal in aanhouding na Newcastle oorgeplaas word om ook daar in die hof te verskyn. Volgens Mdhluli kan nog klagtes, soos wat die ondersoek vorder, teen die drie verdagtes bygevoeg word.
