Sanral beoordeel die skade en sal dan bepaal hoe lank dit sal neem om die brug te herstel.
Die KwaZulu-Natalse departement van vervoer het die N2 suidwaarts gesluit ná die gedeeltelike ineenstorting van die Umbongintwinirivierbrug Dinsdag.
Die provinsie het sedert die naweek swaar reën ervaar, met die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) wat Maandag ’n oranje vlak 5-waarskuwing vir erge donderstorms uitgereik het.
Swaar reën het Dinsdag voortgeduur, wat gelei het tot die gedeeltelike ineenstorting van die brug.
LUR vir vervoer en menslike nedersettings, Siboniso Duma, het Dinsdag gesê hy was in voortdurende skakeling met die minister van vervoer, Barbara Creecy.
“Die Minister het my verseker dat ‘n span van SANRAL die saak bestuur aangesien die N2 Ezimbokodwenirivierbrug onder die entiteit val,” het Duma gesê.
“Ons onthou dat die minister ‘n paar weke gelede saam met Sanral in die provinsie was om die opgradering van N2 en N3 met ‘n begroting van R50 miljard te monitor.
“Ons gaan voort om met die Minister te kommunikeer om die herstel, instandhouding en konstruksie van ons paaie en brûe te versnel.”
Terwyl die noordwaartse verkeer nie geraak word nie, word die suidwaartse verkeer deur Andrew Zondoweg en ander munisipale paaie herlei. Sanral het motoriste aangeraai om versigtig te wees wanneer hulle die brug nader en eerder alternatiewe roetes te gebruik.
“Sanral-spesialisingenieurs is tans op die terrein om die omvang van die skade te bepaal en regstellende stappe wat geneem moet word,” sê Vusi Mona, Sanral se hoofbestuurder van bemarking en kommunikasie.
“Die suidwaartse rybaan oor die brug is vanaf Joinerweg gesluit en voertuie word na alternatiewe roetes herlei. Motoriste word aangeraai om versigtig te wees wanneer hulle die terrein nader.”
Intussen het die weerdiens ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms oor die suidwestelike dele van Limpopo, uiterste oostelike dele van die Noordwes-provinsie, Gauteng en die westelike hoëveld van Mpumalanga, Woensdag.
Inwoners in hierdie gebiede moet oppas vir skade of verlies van infrastruktuur, nedersettings en groot reisontwrigtings en ontwrigtings van munisipale en ander noodsaaklike dienste, het die weerdiens gesê.
