Ek kry ’n video van ’n priester wat sê satan veg nie teen Muhammed nie. Hy veg nie teen Budda nie en nog minder teen Krisna. Hy veg net teen Jesus. Hoekom? Want Jesus is die enigste Een wat dit vir hom nag gemaak het. Stikdonker nag!
Jy sien, die enigste probleem wat die satan het, is Jesus Christus. Jesus het hom oorwin en daarom kan hy nie vir Jesus wen nie. Daarom gaan hy eerder sy aanvalle op Jesus se kinders loods.
So waar ook al Jesus se kinders is, die duiwel gaan ons vervolg en dit vir ons hel probeer maak op aarde. Want wanneer hy ons vervolg, is dit Jesus wat die pyn voel wanneer ons op verkeerde paaie gelok word.
Hierdie is ’n realiteit waarteen ons ons moet staal. Dis eintlik oorlog.
Toe ek in die weermag was, het ons baie goeie opleiding gekry. Hulle het ons (letterlik) gedril om presies te verstaan hoe werk ons gewere. Ons kon dit binne minute uitmekaarhaal en weer terugsit.
Ons is geleer van aanvalsplanne en hoe om na jou maters te kyk. Enige tyd van die dag of nag was ons gereed vir die vyand. Maar ons was eintlik meer as gereed vir hulle as wat hulle verwag het.
Vanaf die eerste dag wat ons opleiding ontvang het, het ons elke dag nuwe inligting oor die vyand ontvang. Ons het geweet hoe hulle lyk en watter wapentuig en gewere hulle gebruik het. Ons het selfs geweet wat hulle aanvalsplanne was.
Dit is seker die heel belangrikste om presies te weet wie is die vyand, want dan kan jy jouself en jou wapens voorberei vir die aanval. Presies so is dit met satan. Ja, die ou is oorwin aan die kruis. Jesus het sy nek gebreek, maar met sy laaste stuiptrekkings hier op aarde saai hy verwoesting.
Vals leraars is een van satan se aanvalswapens. Hy dwing homself in slim mense se koppe en laat hulle dinge van God glo wat nie waar is nie. Met ’n sousie bied die leraars dit dan vir die waarheid aan ander mense en sonder om dit te ondersoek, volg die mense soos slawe hierdie verkeerde leringe.
1Ongelukkig was daar nog altyd ’n klomp vals profete in Israel. Binnekort gaan dieselfde daar by julle gebeur. ’n Klomp mense sal allerhande skewe sienings oor God daar by julle probeer insmokkel. Hulle sal ’n bespotting maak van die Here wat hulle losgekoop het. Ek sê vir julle: hulle oordeel is voor die deur, en baie gou ook!
So wees gewaarsku. Moenie onkant betrap word nie. Moenie sê jy het nie geweet nie. Die satan loop rond soos ’n brullende leeu en soek plekkies waar hy jou kan pootjie. Dit gaan gewoonlik op die plekke wees waar jy die swakste is.
Moenie alles vir soetkoek opeet nie. Wees nugter en vra vrae. Vra ander mense na wie jy opkyk wat hulle opinie is. Gelukkig hoef jy nie alleen op te staan teen die satan en sy trawante nie. Jesus het hom reeds oorwin en die Heilige Gees sal hom enige tyd weer ’n goeie pak slae gee.
Teks
2 Petrus 2:1-3
Om oor na te dink
Waar probeer die duiwel jou pootjie?
Hoe moet jy voorberei vir sy aanvalle?
Moet jy hulp kry om staande te bly?
Gebed
Vader, ek weet uit ondervinding dat die duiwel ’n realiteit is. Hy probeer sy bes om my te pootjie. Gee my krag om saam met die Heilige Gees elke keer as oorwinnaar uit te stap. Amen.
Gerjo Ben
