Die polisie het verduidelik dat ‘n beampte wat vir beweerde bankkaartdiefstal gearresteer is, nie verbind word met die kaping of moord op ‘n 11-jarige meisie nie.
’n Durbanse polisiekonstabel is vanoggend by sy huis in Seaview gearresteer vir die diefstal van ’n bankkaart wat aan ’n kapingslagoffer behoort.
Verlede maand is die 11-jarige Zarah Ramsamy dood toe kapers oor haar gery het terwyl sy onder haar ma se motor weggekruip het tydens ‘n kaping in Malvern, Durban.
Kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die KZN-polisie, sê die konstabel is in hegtenis geneem nadat hy gevind is in besit van ‘n bankkaart wat aan die eienaar van die voertuig behoort het wat gekaap is.
Netshiunda het verduidelik dat die beampte nie met die kaping of die meisie se moord verbind word nie.
“Hoewel dit waar is dat ‘n polisiekonstabel in hegtenis geneem is, wil die polisie die rekord regstel dat die beampte nie met die kaping of die moord verbind word nie.
“Ten tyde van die kapingsvoorval in die Malvern-omgewing was die gearresteerde polisiekonstabel aan diens in die Cato Manor-polisiëringsgebied waar hy gestasioneer is.
“Toe die gekaapte voertuig in die Cato Manor-gebied gevind is, is dieselfde konstabel gevra om die voertuig na die Malvern te ry. Dit was gedurende daardie tyd dat die konstabel die bankkaart in die hande gekry het en dit [na bewering] gesteel het,” verduidelik Netshiunda.
Hy sê die beampte sal van diefstal en bedrog vir die gebruik van die kaart aangekla word en sal Maandag in die Pinetown-landdroshof verskyn.
Netshiunda sê die beampte sal ook interne dissiplinêre proses in die gesig staar proporsioneel tot die misdade waarvan hy aangekla is.
