‘n Gesin se tragedie is uitgebuit deur ‘n opportunistiese man wat R6 000 geëis het vir ‘n man wat vermis was.
’n Kriminele opportunis het probeer om ‘n familie se soektog na hulle geliefde uit te buit, deur ‘n ‘losprys’ te eis vir ‘n vermiste man.
Marius Leon Brits (64) het gister spoorloos verdwyn tydens ’n Sondagoggend-fietsrit in Middelburg.
’n Soekgeselskap van sowat 80 inwoners het aanvanklik die Dennesig Noord bosse gefynkam, waar ’n snuffelhond glo sy spoor opgetel het. Dié soektog is deur Arthur Hill van die plaaslike dagpatrollie van stapel gestuur nadat Brits nooit teruggekeer het huis toe nadat hy met ’n titanium bergfiets van sy huis in Dan Pienaarstraat af weg is nie.
Daar is kort na 21:00 gisteraand laat weet dat hy self teruggekeer het huis toe en dat hy tans in die hospitaal opgeneem is.
‘Losprys’
Tydens die soektog is Brits se familie deur ‘n man geskakel wat R6 000 vir sy vrylating by familielede geëis het.
Dié man het drie keer die familie geskakel en aangedring dat die geld in ’n Capitec-rekening geplaas word. Hy het aan die familie gesê dat Brits vasgebind in ’n motorhuis by ’n leë huis in die dorp aangehou word.
Die oproepe het juis daartoe gelei dat die dagpatrollie en soekgeselskap by alle leë huise in Kanonkop en Dennesig na hom gesoek het.
Soektog
Kanonkop en Dennesig is eers straat vir straat nagegaan voordat die soektog uitgebrei het na Mineralia, die Tarries-fietsbaan, Groenkol en ander oop velde. Toe dit donker word het vrywilligers infrarooi- en nagvisietegnologie ingespan om na hom te soek.
Volgens Hill, wie Brits by sy huis besoek het voordat hy gisteraand hospitaal toe geneem is, was hy wel naby die Middelburg Mall opgemerk. Brits het tot by die N4 gery voordat hy teruggekeer het dorp toe.
Hy was baie verward en het onder meer na homself as ‘Gert van Bloekomsig’ verwys. Hy was ontwater en het volgens Hill verskriklik geruk, en was oortrek met ’n koue sweet voordat hy hospitaal toe geneem is.
Brits is ’n diabeet en lae bloedsuiker het moontlik veroorsaak dat sy geheue en motoriese funksies aangetas is.
Sy dogter, Ronel, het vanoggend op die WhatsApp-groep wat gestig is om hom te soek, gesê dat haar pa steeds nie sy bewegings kan herroep nie en baie verward is.
“Hy onthou niks,” het sy in ’n stemboodskap gesê.
Brits ry gereeld fiets en bly gewoonlik so uur en ’n half van die huis af weg.
