Dirk Kritzinger (81) is oorlede en sy vrou Sarie ernstig beseer tydens ʼn plaasaanval in Cullinan in Gauteng.
Ao. Johan van Dyk sê die polisie in Cullinan is Saterdag van die plaasaanval in kennis gestel. “Die oorledene is in die huis aangetref met ernstige kopwonde. Hy het in ʼn plas bloed gelê.”
ʼn Getuie het gesê hy het na die egpaar se huis gery toe hul dogter hom gekontak het om te sê dat sy hulle nie in die hande kan kry nie. “Hulle het nie hul telefone geantwoord nie. Sy het onraad vermoed, want dit is baie ongewoon dat haar ouers nie hul telefone antwoord nie.”
Met die man se aankoms het hy die ernstig beseerde vrou en haar man in die huis aangetref.
Maroela Media verneem Dirk was jare lank verpleër op die myn. Sarie is nog in die hospitaal.
Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en dit is ook nog nie duidelik of enige eiendom gesteel is nie.
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. “Alle leidrade word opgevolg.”
Enigiemand met inligting word versoek om met die Cullinan-polisie kontak te maak.
Lees ook:

One thought on “CULLINAN PLAASMOORD – Name is bekend gemaak”