Die dissiplinêre verhoor van Shaun Christie, die senior student van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat vroeër vandeesmaand tydelik geskors is ná sy openbare beswaar teen die inhoud van ’n sessie by ’n oriënterings geleentheid, vind vandag by die universiteit se Potchefstroom-kampus plaas. AfriForum Jeug se regspan sal Christie by die verhoor bystaan en sal ook daarop aandring dat alle aanklagte teen hom teruggetrek word.
Luidens die klagstaat word Christie van vyf afsonderlike aanklagte van wangedrag aangekla. Die universiteit voer onder meer aan dat Christie homself opsetlik “aan haatspraak skuldig gemaak het deur aan te hits dat die studente moet opstaan teen die LGBTQIAP + Gemeenskap”. Boonop word hy daarvan aangekla dat hy ‘n universiteitsprogram opsetlik ontwrig het; skending van die regte van die speaker van die betrokke sessie, Chloe Valerie van der Walt; skuldig te wees aan die behandeling van die LGBTQIAP + gemeenskap met vyandigheid; en dat hy verkeerdelik en opsetlik ‘n valse verklaring gemaak het oor die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes.
Volgens Ronald Peters, AfriForum Jeug bestuurder, ignoreer die universiteit Christie se reg op vryheid van spraak en vryheid van assosiasie met hierdie aanklagte. “Die poging om ‘n klag van wangedrag nou uit te brei om ‘n baie ernstiger klag van haatspraak in te sluit, is onaanvaarbaar. Ons regsverteenwoordiger sal Christie bystaan en verseker dat hierdie heksejag tot ’n einde gebring word,” beklemtoon Peters.
“Tot dusvêr het die universiteit geensins verantwoordelikheid aanvaar vir die blatant bevooroordeelde wyse waarop die oriënteringsprogram saamgestel is nie. ‘n LGBTQIAP + vereniging was die enigste een wat toegelaat is om ‘n sessie as deel van die amptelike program aan te bied en dit het die teelaarde vir ontevredenheid geskep. Christie het opgestaan vir dit waarin hy geglo het en word nou daarvoor gestraf,” sluit Peters af.
Christie se tydelike skorsing is op 13 Februarie gedeeltelik opgehef. Die universiteit se dissiplinêre komitee het hiermee hierdie vierdejaar regstudent toestemming gegee om weer aan akademiese verrigtinge deel te neem. Hy word egter steeds nie toegelaat om enige van die universiteit se openbare geleenthede by te woon nie.
