Brande woed in verskeie dele van die land

Sterk winde en droë toestande het talle brande die afgelope dae oor dele van die land laat uitbreek, met brandwaarskuwings wat in talle provinsies uitgereik is.

Digte rook beïnvloed sig op die N4 ooswaarts in Middelburg en motoriste word aangeraai om versigtig te bestuur.

Soos deur die Middelburg Observer berig, is ‘n verkeerswaarskuwing uitgereik vir digte rook op die N4 aangesien ‘n veldbrand langs die snelweg woed. Digte rook beïnvloed sig in albei bane, net ná die Belfast-afrit, wanneer jy na Nelspruit ry.

Net ná 13:00 vandag het Middelburg Observer berig dat die stuk N4 tussen die Berg en Dal-monument en die Belfast-afrit tydelik gesluit is weens die rook en ‘n aktiewe ongelukstoneel. Motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Brande en waarskuwings vir Natal

’n Brandwaarskuwing is ook uitgereik vir regoor KZN, te midde van hoër temperature en sterk winde.

Luidens ‘n artikel wat deur die Zululand Observer gepubliseer is, is KZN-rampbestuurspanne op hoë gereedheid na ‘n voorspelling van sterk en skadelike wind in dele van die provinsie vandag.

Inwoners in die distrikte Zoeloeland, King Cetshwayo, Ugu, uMgungundlovu, uThukela, Amajuba en iLembe word versoek om uiters versigtig te wees en vir slegte weersomstandighede voor te berei.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het windsnelhede van tot 70 km/h voorspel, met rukwinde van meer as 80 km/h.

Die KZN-departement van samewerkende regering en tradisionele sake sê ‘sterk wind, tesame met hoë temperature, het ideale toestande vir wegholbrande geskep’.

“Inwoners word gewaarsku oor die gevare wat hierdie brande inhou en word versoek om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hulself en hul eiendomme te beskerm,” het die departement gesê.

Volgens ‘n artikel wat deur The Witness gepubliseer is, het wegholbrande gister Pietermaritzburg in ‘n rookwaas verswelg, wat inwoners op hoë gereedheid gelaat het toe nooddienste gereageer het.

In Pietermaritzburg reageer nooddienste op berigte van wegholbrande in Lincoln Meade, Mountain Rise en dele van Northdale. Foto: Verskaf.

Laevelder het Saterdag berig brande in woude in Mpumalanga se Kaapsehoop, wat bekend is vir sy legendariese wilde perde, is buite beheer en mense is versoek om nie die gebied te besoek nie. Die brande is gister in bedwang gebring.

Beeld: Laevelder/Tumelo Waga Dibakwane/Santie van der Westhuizen.

Rampbestuur se Theo van Niekerk, het sopas laat weet die pad wat reis tussen Ventersdorp en Potchefstroom word Sondag middag gesluit agv ‘n veldbrand wat besig is om buite beheer te raak.

Verbruikers word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak tot die pad weer vir gebruik oop gestel word.

Sterk wind word ook tans oor dele van Noord-Wes heen ervaar. Die publiek word gemaan om geen oop vure te maak nie.

Veiligheids maatreëls

Zululand Observer het die volgende veiligheidsmaatreëls vir sterk winde gepubliseer:

  • Beveilig enige los items rondom huise en eiendomme om te verhoed dat dit deur die wind opgetel word.
  • Bly binnenshuis waar moontlik om die risiko van besering van vlieënde puin te vermy en om veilig te bly teen die hoë winde.
  • Inwoners moet enige nie-noodsaaklike reis vermy om die risiko van ongelukke op die paaie te verminder.

Voorkomende maatreëls vir brande

  • Vermy oop vure, want dit kan vinnig buite beheer versprei.
  • As jy ’n brand gewaar, meld dit dadelik aan by die plaaslike brandweer of nooddienste.
  • As jy in ‘n landelike gebied woon, oorweeg dit om brandbane rondom jou eiendom te skep om die verspreiding van brande te help voorkom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui