‘Ons sal nie sulke brutale optrede teen ons lede duld nie’
‘n Oos-Kaapse polisiebeampte is koelbloedig doodgeskiet tydens ‘n lokval in Tlokoeng (voorheen Mount Fletcher).
Luitenant-kolonel Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, sê die konstabel is Donderdag omstreeks 20:30 doodgeskiet terwyl hy aan diens was.
Die naam en ouderdom van die oorledene is weerhou.
“Die SAPD Oos-Kaap bestuur het met groot skok en woede verneem van die moord op die polisiekonstabel in Tlokoeng.
“Daar word berig dat twee polisiekonstabels in die Mjamba-omgewing aan diens was toe hulle deur ‘n Corsa-bakkie met vyf gewapende mans in ‘n lokval gelei is.
“’n Verdagte het uit die voertuig gespring en op die polisiemanne geskiet en een konstabel in sy bolyf getref.
“Die verdagtes het na ‘n nabygeleë taverne gegaan en die eienaar van sy vuurwapen, ‘n onbekende bedrag kontant en drank beroof en ‘n VW Polo Vivo gekaap, wat hulle as ‘n wegkomvoertuig gebruik het,” het Mawisa gesê.
Die verdagtes wat steeds op vrye voet is, het oo die polisievuurwapens geneem.
“Die polisiekonstabel, eienaar van die drankwinkel en die bestuurder van die gekaapte voertuig is ongedeerd terwyl die ander konstabel na die hospitaal geneem is waar hy aan sy beserings beswyk het,” het sy gesê.
Luitenant-generaal Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het ‘n streng waarskuwing gerig aan diegene “wat sulke blatante disrespek vir die wet en diegene wat dit afdwing openbaar”.
“Ons sal nie sulke brutale optrede teen ons lede duld nie. Ons doen ‘n beroep op die burgerlike samelewing om hande te vat met die polisie om hierdie afskuwelike oortreders vinnig aan te kla.
“Ons betuig ons innige meegevoel met die familie, vriende en kollegas van ons gevalle lid.”
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand wat inligting kan hê wat kan help om die verdagtes op te spoor om SAPD Stop Misdaadnommer by 08600-10111 te kontak of die polisie via die MySAPS-toepassing in kennis te stel.
Die polisie het ’n saak van moord, poging tot moord, kaping, sakeroof, ontvoering en ’n aanval op die polisie geopen.
