Nadat die polisie die misdadiger weggeneem het, is die De Vos-egpaar na die Johan Heyns-kliniek waar hul diep bytwonde skoongemaak is
VANDERBIJLPARK. – 29 Mei 2024 gaan nog lank in Matt en Liza de Vos se geheues ingebrand bly. Nie net omdat dit nasionale verkiesingsdag was nie, maar veral omdat dit die dag was waarop ‘n inbreker hulle met sy tande aangeval het!
Matt, wat saam met sy vrou en drie kinders in Bessemerstraat, CW6 woon, vertel dat hy omstreeks 01:00 die oggend wakker geword het van ‘n groot geraas. Hy het gedink hy hoor die agterdeur oopgaan en het dadelik ondersoek gaan instel. Daar was niemand nie en hy het gaan seker maak die kinders is veilig in hul beddens.
Na ‘n rukkie was die geraas terug. Dié keer het dit geklink soos katte wat op die dak baklei, sê Matt. Sy dogter van 12 was teen dié tyd ook op en Matt is by die agterdeur uit om te gaan kyk wat aangaan. Dit was toe dat hy ‘n man in die erf op ‘n asblik teen die muur sien staan het, besig om sonkragligte en -panele af te haal.
“Die skelm het probeer afspring en vlug, maar ek het hom van agteraf gegryp en probeer keer dat hy naby die betonmuur kom. Hy het probeer om die lig se draad om my nek te kry. My vrou het op daardie oomblik uit die huis gekom en besef wat aangaan. Sy kry toe my kind se skool-caddy in die hande en begin looi die dief daarmee om sy aandag van my af weg te kry. Hy het amper losgekom maar ons kry hom toe weer beet. Dit was tóé dat hy my begin byt het. Liza het gesien hy mik vir iets in sy sak en het my gewaarsku om te pasop.
“Hy het haar toe ook erg begin byt. Hy het behoorlik aan haar arm geruk en -pluk met sy mond, soos ‘n dier wat stukke weefsel uit haar wou skeur. Ek stoot hom toe teen die betonmuur vas sodat hy vir Liza kon los en ek skreeu vir haar om teen my skoonpa se garagedeur geraas te maak. Skoonpa het gelukkig gehoor en kom help, en teen 01:30 was die verdagte geboei,” sê Matt, wat vir A-Sec Security se gewapende reaksie-eenheid werk. Hoewel die gesin dadelik die polisie ontbied het, het hulle meer as vyf ure later eers opgedaag. Die egpaar moes die geboeide verdagte intussen in die tuin bewaak terwyl hy gefrustreerde klageluide gemaak en steeds probeer vlug het.
Nadat die polisie hom weggeneem het, is die De Vos-egpaar onmiddellik na die Johan Heyns-kliniek waar hul diep bytwonde skoongemaak is en hulle inspuitings en antibiotiese pille en salf gekry het. Hul dogter van 12, seun van 9 en baba van 3 maande is gelukkig ongedeerd. Ondanks die nag se drama het die egpaar later die middag kans gesien om te gaan stem.
* Die verdagte is nog in aanhouding tot met sy volgende verskyning in die Vanderbijlparkse landdroshof.



