Suid-Afrika rapporteer die eerste Mpox sterfte uit 5 gevalle te midde van ‘n geskarrel om medikasie aan te koop en pogings om die oorsprong van die virus te vind

Die sterfte van die pasiënt is op Maandag, 10 Junie 2024, in die Tembisa hospitaal, geleë in Sentraal Transvaal, bevestig.

Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, sê alle partye is betrokke om die verspreiding van Mpox te voorkom.  Medikasie word aangekoop en daar word rekord gehou van pasiënte wat met die virus besmet is.  Daar is ook ‘n daadwerklike poging om enige nuwe voorvalle te identifiseer.

Mpox (voorheen bekend as aappokke) is ‘n aansteeklike virus.  Hierdie virus is deel van dieselfde familie as die virus wat pokke veroorsaak.  Pokke is as uitgeroei beskou omdat dit deur inentings en ander maatreëls bekamp is. Mense met Mpox kry gewoonlik ‘n uitslag tesame met ander simptome.  Die uitslag gaan deur verskillende fases, insluitend ‘n skurwe kol wat eers verdwyn wanneer die pasiënt gesond is.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraaglike siektes sluit die aanvanklike simptome koors, hoofpyn, spierpyn, rugpyn, kouekoors en uitputting in.  Blaas-agtige merke ontwikkel binne drie tot vyf dae vandat die virus opgedoen is en dit kan selfs op voetsole en handpalms voorkom.

Suid-Afrika het tot op hede 5 laboratories- bevestigde Mpox gevalle aangemeld.  Volgens mnr Phaahla is twee gevalle in Sentraal Transvaal aangemeld en drie in Natal.  Al die pasiënte is manlik en tussen die ouderdom van 30-39 jaar.  Hulle het geen reisrekords na enige van die lande waar die virus huidiglik voorkom nie. Dit dui daarop dat die hoogs aansteeklike virus plaaslik versprei word.

Volgens Phaahla is daar huidiglik geen geregistreerde behandeling vir Mpox in Suid-Afrika nie.  Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beveel aan dat Tecovirimat (bekend as TPOXX) aangewend word in ernstige gevalle, soos byvoorbeeld waar ‘n individu ‘n CD4 telling van minder as 350 toon.  Die departement het egter goedkeuring verkry deur middel van Seksie 21 (kategorie A medikasie vir menslike gebruik) van die  Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Outoriteit om Tecovirimat voor te skryf aan die 5 amptelike pasiënte wat besmet is met die virus.

‘n CD4 telling word meesal gebruik om die immuunstelsel te moniteer indien ‘n individu met HIV besmet is.  HIV val CD4 selle aan en vernietig dit.  ‘n Individu met HIV besmetting wat nie behandeling ontvang nie, se immuniteitstelsel is sodanig aangetas dat so ‘n persoon geen weerstand teen infeksies sal hê nie. 

Mpox is dus die grootste vyand vir diegene met ‘n lae immuniteitstelsel.

(gedeeltes verkry op Daily Maverick)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui