Taxi’s en vragmotors het Port Shepstone gesluit

Motoriste is aangeraai om weg te bly van Port Shepstone weens onluste wat daartoe gelei het dat die dorp se in- en uitgange deur betogers gesluit is.

Ten tyde van publikasie was die polisie op die toneel en verkeer het begin vloei.

Die protesaksie, wat in Marburg op die N2 begin het, het na talle kruisings versprei, met taxi’s en vragmotors wat die pad versper het.

’n Ooreenkoms is pas met die leierskap van Ray Nkonyeni Munisipaliteit (RNM) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) bereik dat paaie oopgestel moet word.

Dit is volgens ‘n verklaring wat RNM laat vanmiddag vrygestel het.

Woordvoerder Simon April sê RNM is bewus van die taxi-blokkade in en om Port Shepstone wat (meestal) die N2 tussen Umtentweni en Murchison geraak het.

Verskeie verkeerskruisings is deur vragmotors en/of taxi’s versper, wat die verkeer ontwrig.

Vir baie, veral ouers van skoolgaande kinders in Port Shepstone, Marburg en Albersville, sowel as verder suid in Izotsha en Oslo Beach, was dit ‘n stresvolle en uitdagende dag.

“Die leierskap van die munisipaliteit, KZN se departement van vervoer (Operasie Shanela – Openbare Vervoer-toepassingseenheid), RNM-wetstoepassing, SAPD en leierskap van Santaco is tans besig om paaie oop te stel,” sê April.

Hy kon nie sê wanneer nie, maar sê die leierskap en bestuur van die munisipaliteit, en alle relevante staatsinstansies, doen hul bes om die saak so gou moontlik op te los.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui