Die nuusgroep, Media24 sê die tegnologiereus, Google, se weiering om sy inkomste in Suid-Afrika te verklaar, is net verdere bewys van die internasionale tegnologiereus se pogings om verantwoordbaarheid te vermy.
Een van Media24 se publikasies, Netwerk24 berig dat Google weier om finansiële inligting oor sy bedrywighede in Suid-Afrika bekend te maak.
Media24 het in Maart vanjaar ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien om Google Suid-Afrika te verplig om sy inkomste bekend te maak.
Google Suid-Afrika sê terwyl hy erken dat mediavryheid belangrik is, het die aansoeker nie daarin geslaag om ’n voldoende verduideliking te verskaf oor waarom elke dokument wat hy versoek, vereis word vir die toepassing en die beskerming van die reg tot mediavryheid nie.
Die aansoek spruit voort uit ‘n ondersoek van die Mededingingskommissie oor die vergoeding van plaaslike nuusdienste vir inhoud wat op Google se platforms gebruik word.
