Vier mense is dood toe winkelmuur in Ngcobo in die Oos-Kaap ineengestort het
Vier mense is dood en sowat 16 is met beserings hospitaal toe gehaas nadat ‘n gebou Vrydag gedeeltelik in Ngcobo in die Dr AB Xuma plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap ineengestort het.
Dit is bevestig deur burgemeester Siyabulela Zangqa, wat gesê het die beseerdes is na die All Saints-hospitaal gehaas.
“Maar reddingspanne soek steeds om te sien of daar nog mense onder die puin vasgekeer is.
“Ons wil meegevoel betuig met die families wat geliefdes verloor het.”
Hy het gesê hulle is Vrydag omstreeks die middag van die voorval in kennis gestel.
Dit het gekom net ‘n paar dae nadat ‘n gebou in George in die Wes-Kaap ineengestort het.
Volgens die jongste nuus het die dodetal nou tot 12 in die George-voorval gestyg.
Zangqa het gesê die Ngcobo-gebou het ‘n haarsalon en ander besighede gehuisves.
“Ons is geskok oor die voorval,” het hy gesê
Die burgemeester het egter bevestig die gebou is oud en nie goed onderhou nie.
Hy het gesê die munisipaliteit sal moet verseker dat sulke voorvalle nie weer gebeur nie
Die munisipaliteit sal ‘n ondersoek moet loods na wat veroorsaak het dat die gebou ineengestort het, het hy gesê.
Nomakhosazana Meth, Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, se woordvoerder, Mkhululi Ndamase, het ook die ongevalle bevestig.
Hy het gesê 13 mense is beseer en na die hospitaal gehaas.
“Mediese nooddienspersoneel en ander reddingswerkers is steeds besig met soek-en-redding,” het hy gesê.
DispatchLIVE
