Man verdrink in sloot toe pyp bars

’n Kontrakteur het Woensdag verdrink terwyl hy herstelwerk in Salt Rock, noord van Ballito, in KwaZulu-Natal gedoen het.

Die man was glo besig om in ’n diep sloot te werk toe ’n waterpyp gebars het

IPSS Medical Rescue sê die sloot het meegegee ná die pyp gebars het. Dit het veroorsaak dat die man tot by sy middellyf in sand vasgeval het terwyl die sloot met water opgevul het.

Die man kon nie vanself uit die sloot kom nie en sy kollegas kon hom ook nie uitgrawe nie.

Reddingswerkers is na die toneel ontbied waar paramedici én soek-en-reddingswerkers van IPSS Medical Rescue saam met onder andere Kwadukuza-brandbestryders en CERT-nooddiensbeamptes van Tongaat (Community Emergency Response Team) tevergeefs gespook het om die man vanuit die sloot te bevry.

Die man is eindelik op die toneel dood verklaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui