Jaar later nog geen vordering in Rayton-man se moordsaak

Dit is vandag presies ʼn jaar dat my broer vir die laaste keer lewend gesien is en die polisie sloer steeds om sy moord op te los. Dit is ʼn wond wat oop bly… Gaan ons ooit antwoorde kry?”

Só het Ryno van der Merwe Dinsdag moedeloos aan Maroela Media gesê nadat daar steeds geen vordering in die saak ná die moord op sy broer, Christo, gemaak is nie.

Die 42-jarige Christo van der Merwe se liggaam is in Mei verlede jaar in die bosse naby ʼn plaas by Boschkop in Gauteng gevind. ʼn Nadoodse ondersoek is later gedoen, waarna vuilspel bevestig is.

Van der Merwe is op 7 Mei verlede jaar vir die laaste keer by die Hoek Kroeg & Restaurant op Rayton, waar hy gewoon het, gesien. Beeldmateriaal van die betrokke aand wys hoe ʼn man – iemand wat bekend was aan Christo – aggressief teenoor hom optree.

ʼn Ooggetuie het later aan Buks, Van der Merwe se 64-jarige pa, bevestig dat hy gesien het hoe Van der Merwe se vermeende moordenaar hom in die ribbes skop en bier op hom uitgooi terwyl hy op die grond lê. Maroela Media het na ʼn stemopname van dié gesprek geluister.

Van der Merwe se familie het sedertdien alles in hul vermoë gedoen om inligting vir die Boschkop-polisie in te samel sodat sy vermeende moordenaar vasgetrek kan word.

Weens kommer dat die Boschkop-polisie nie die saak deeglik ondersoek nie, het die familie later ʼn private speurder, Mntu Mbhele, aangestel om met die ondersoek te help

Christo van der Merwe se geliefdes was Dinsdag langs sy graf om sy dood, presies een jaar later, te gedenk. Die persoon verantwoordelik vir sy dood is egter steeds nie aangekeer nie.

Buks sê Mbhele het hom twee maande gelede gebel en hom laat weet dat inhegtenisnemings binnekort gedoen gaan word. Dit kom egter nadat Mbhele reeds in Januarie aangevoer het dat inhegtenisnemings op hande is.

“Ons wag nog steeds. Vandag is dit reeds ʼn jaar later en die ondersoekbeampte van die polisie het ons nog steeds nie besoek om die bewyse wat ons teen die verdagte het te kry nie.

“Ek en Ryno volg gereeld op om te hoor hoe die ondersoek vorder, maar daar word slegs leë beloftes aan ons gemaak. Niemand blyk antwoorde te hê nie.”

Buks sê hy verstaan nie hoekom die ooggetuie nog nie vir ondervraging ingeneem is nie.

Mbhele het aan Maroela Media gesê dat verskeie verdagtes met inligting rondom die hoof verdagte in Van der Merwe se moord nog geïdentifiseer moet word.

“Ek is ʼn private speurder wat deur die familie aangestel is en kan dus nie namens die polisie praat nie. Ek het al telkemale telefonies met hulle [die Boschkop-polisie] oor die stand van sake in verband met Christo se moord opgevolg, maar hulle reageer slegs as ek by die polisiestasie opdaag.”

Op die vraag hoekom daar nog nie eens ondervragings plaasgevind het nie, antwoord Mbhele dat hy dit ook nie begryp nie.

Mbhele sê hy sal binnekort weer ʼn besoek by die Boschkop-polisie aflê om hulle met enige moontlike inhegtenisnemings te help. Hy kon egter nie ʼn presiese datum verskaf nie.

Buks en sy lewensmaat, Daleen, is Dinsdag weer na Van der Merwe se graf om sy dood, een jaar later, te gedenk.

“Ons glo dat geregtigheid wel sal geskied. Ons sal nie ophou vrae vra en baklei totdat die man wat vir Christo se dood verantwoordelik is, agter tralies sit nie.”

Maroela Media het navrae aan sers. Yeroboam Mbatsane, die woordvoerder van die Boschkop-polisiestasie, gestuur asook aan lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng. Hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Maroela Media

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui