SENTRAAL-TRANSVAAL. – Adriaan Theunis van Lingen (64) is vermoor op Kliprivier aangetref na hy aanvanklik as vermis aangemeld is. Skhumbuza Dlamini (32), ‘n Swaziland-burger wat onwettig in SA is en Sizwe Nkosi (30) is vir die moord in hegtenis geneem. Beide het reeds in die Vereeniging-streekhof verskyn, waar die saak tot 20 Februarie uitgestel is.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Van Lingen het na bewering op 12 Februarie van sy huis in Wingate-gholflandgoed in Moreletapark in Pretoria na Olifantsfontein vir ‘n vergadering vertrek. Hy is glo ontvoer en drie bedrae, onderskeideidelik R500 000, is na ‘n onbekende rekening oorbetaal. Later die dag is R200 000 en toe weer R250 000 na ‘n motorhandelaar oorbetaal.
Mahanjana sê dieselfde dag is die oorledene se kaart by ‘n kroeg in Thembisa gebruik.
Nadat Van Lingen dieselfde dag nie teruggekeer het huis toe nie, is hy as vermis by die polisie aangemeld. Sy liggaam is Dinsdag op Kliprivier gevind en sy bakkie, ‘n Ford Ranger, later die dag uitgebrand op ‘n kleinhoewe op De Deur. Volgens Mahanjana was daar nog twee onbekende voertuie.
Nadat die twee verdagtes met die transaksie by die kroeg verbind is, is hulle in hegtenis geneem.
Die saak is tot Dinsdag uitgestel sodat die verdagtes regsverteenwoordiging kan bekom.
AO Johan van Dyk het aan Rekord-koerant gesê Van Lingen het skietwonde gehad.
Bronne: NVG en Rekord-koerant
