Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem omdat hy na bewering ‘n vals gesertifiseerde afskrif van sy matrieksertifikaat ingedien het om sy aanstelling as adjunkdirekteur van kommunikasie te verseker.
Kupelo is borgtog van R30 000 toegestaan en deur die Zwelitsha-landdroshof vrygelaat.
Hy staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en uitlating.
Landdros Nompakamiso Mlomnyeni het gesê Kupelo het in Augustus 2002 by ‘n advertensie van die departement van gesondheid aansoek gedoen vir ‘n pos as adjunkdirekteur van kommunikasie.
Die vereistes vir die pos was ‘n driejarige baccalaureusgraad of diploma in kommunikasie of ‘n gelykwaardige kwalifikasie plus vyf jaar toepaslike ondervinding.
Kupelo het na bewering ‘n vals gesertifiseerde afskrif van sy graad 12-sertifikaat ingedien.
Mlomnyeni het sy borgtogaansoek toegestaan en die saak is tot 30 April na die streekhof uitgestel.
“Borgtog is toegestaan op voorwaarde dat hy nie met die vier staatsgetuies inmeng nie.”
Kupelo se prokureur, Asanda Pakade, het die klagstaat as kwaadwillig beskryf en gesê die saak sal nie verhoor word nie.
“Daar is absoluut geen saak hier nie … Ons is vol vertroue dit sal in duie stort,” het hy gesê.
Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid, se woordvoerder, Mkhululi Ndamase, het gesê:
“Die departement verwelkom enige stap wat goeie en skoon bestuur bevorder.
“Omdat hierdie nou ’n kriminele aangeleentheid is wat deur die Valke hanteer word, kan en sal die departement egter nie verder kommentaar lewer nie.”
Ndamase het gesê die departement sal saamwerk met enige ondersoek wat poog om die integriteit van die dienste wat aan die mense van die Oos-Kaap gelewer word, te versterk.
Kupelo beweer dat hy ‘n eredoktorsgraad van die Trinity International Bible University het, wat onlangs opslae gemaak het nadat Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gesê het sy grade is vals.
Dit was nadat Trinity International ’n eredoktorsgraad aan die akteur Sello Maake kaNcube toegeken het.
Nzimande het gesê die instelling is ongeregistreer en het geen magtiging om grade in SA toe te ken nie.
