Die Kwanonqaba-polisie het twee verdagtes ná ’n huisroof in die vroeë oggendure in Danabaai, Mosselbaai, in hegtenis geneem.
Luidens ‘n verklaring deur sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, is die polisie volgens voorlopige verslae omstreeks 01:45 na ’n huisroof in E Gratastraat, in Danabaai. ’n Man (32) is deur twee mans oorval, van wie een ’n vuurwapen gehad het.
Die verdagtes het die woning geplunder en verskeie items gesteel voordat hulle te voet gevlug het. Die polisie, saam met Mosselbaai-wetstoepassers en ander strategiese rolspelers, het onmiddellik ’n soektog van stapel gestuur. Die ondersoek het die span na ’n huis in Mzolastraat, Asla Park in Kwanonqaba gelei waar die verdagtes opgespoor is. Verskeie gesteelde items, insluitend ’n televisie, skootrekenaars, selfone, klere, skoene, sleutels en elektriese toestelle, is in hul besit gevind. Die waarde van die gekonfiskeerde goedere word op sowat R100 000 geskat.
Die twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 37 jaar oud, is beide van Mosambiekse nasionaliteit. Hulle sal Maandag op aanklagte van huisroof en die besit van gesteelde eiendom in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Genl.maj. Phumzile Cetyana, distrikskommissaris van die Tuinroete, het die span geprys vir hulle vinnige optrede wat tot die inhegtenisneming en die herwinning van gesteelde goed gelei het.
