Die departement van binnelandse sake ondersoek die ontsnapping van 69 ongedokumenteerde buitelandse burgers uit die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersdorp.
Die kontrak van R58,1 miljoen per jaar met die fasiliteitbestuursmaatskappy, EnviroMongz, word ook “ondersoek” om te besluit wat om volgende te doen.
In ‘n verklaring het die departement gesê die uitbreking het Sondag, 17 Maart om 11:50 plaasgevind en het gekom tydens ‘n woordewisseling tussen mense wat wag om gedeporteer te word, en personeel van die kontrakteur wat ook sekuriteit by die fasiliteit verskaf.
“Die departement is ontevrede oor die omstandighede en die wyse waarop hierdie ontsnapping plaasgevind het, want ons glo genoeg kon deur die bestuursmaatskappy en sy sekuriteit gedoen gewees het om hierdie voorval te voorkom. Daarom word die kontrak onder die loep geneem om te besluit oor die beste weg van aksie.”
Die departement het intussen toegangsbeheer en sekuriteit oorgeneem en ’n ander sekuriteitsmaatskappy by die hek gesit.
Ten tyde van die ontsnapping was daar 1 521 ongedokumenteerde buitelandse burgers wat gedeporteer moes word, insluitend die ontsnaptes.
Die individue sou na Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Eswatini en Zimbabwe gedeporteer word.
Die deportasies het voortgegaan, en 622 mense is reeds gedeporteer.
Verdere inligting oor of die ontsnaptes aangekeer is, was nie onmiddellik beskikbaar nie, en ook nie ‘n kommentaar van EnviroMongz nie, maar dit sal bygevoeg word indien ontvang.
Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het in ‘n televisie-onderhoud aan SAUK gesê dat ‘n ander groep Maandag probeer ontsnap het.
“So, ons is baie ongelukkig oor wat Sondag gebeur het. Die sekuriteitsmaatskappy het baie om voor te verantwoord.”
Hy het gesê die maatskappy se antwoorde was “nie bevredigend nie” en beeldmateriaal het gewys dat mense net uitstap.
Hy het gesê twee veiligheidswagte is ook in hegtenis geneem omdat iemand tydens die tweede ontsnapping Maandag in ‘n rusie met wagte geskiet is.
Dit kon nie onafhanklik met die polisie bevestig word ten tyde van publikasie nie.
Die lande van herkoms van diegene wat gedeporteer word, is: Tanzanië (38), Malawi (14), Zimbabwe (5), Mosambiek (3), Lesotho (2), Burundi (3), Demokratiese Republiek van die Kongo (3) en Nigerië ( 1).
Die EnviroMongz-kontrak is geldig vir 60 maande (vyf jaar) vanaf 1 Februarie 2022.
Die fasiliteit is vroeër bestuur deur Bosasa, ‘n maatskappy wat vasgevang is in bewerings van erge korrupsie en omkopery.
