Kleinfontein-gemeenskap reageer op EFF wat daar wil betoog

Die direksie van Kleinfontein het ‘n formele skrywe aan die Tshwane-metro en verteenwoordigers van die EFF gerig oor dié party se voorneme om Vrydag, 2 Mei na Kleinfontein op te ruk.

Die EFF het sy lede in ‘n plasing op sosiale media genooi om Vrydag saam met die party na die sogenaamde “onwettige, apartheidsgemeenskap” op te ruk.

Die party sê hy gaan betoog teen die gemeenskap dat die Pretoriase Hooggeregshof in “2024 beslis het dat die gemeenskap onwettig is.”

Die hoof uitvoerende beampte van Kleinfontein, Stefan Wiese sê in die brief aan die adjunk-burgemeester in die Tshwane-metro, Eugene Modige, dat hy bekommerd is oor die teenstrydige optrede van die metro.

Volgens Wiese is daar aan die een kant deurlopende en konstruktiewe gesprekke tussen die metro en Kleinfontein oor regularisering, en aan die ander kant word ‘n koalisievennoot toegelaat om ‘n betoging te beplan wat hierdie proses ondermyn.

Wiese sê die hofuitspraak waarna die EFF verwys (Saak Nr: 4755/2022) is tans onder appél en is dus nie van krag nie. “Ons het die EFF uitgenooi tot ’n formele en ordentlike gesprek eerder as ’n openbare betoging.”

Volgens Wiese het vyf EFF-lede verlede week Kleinfontein besoek en gesê hulle sal ‘n afspraak maak, wat hulle nog nie gedoen het nie.

Hy sê indien die beplande optog tot enige skade aan persone of eiendom lei, sal Kleinfontein die Tshwane-metro aanspreeklik hou.

“Kleinfontein is ’n vreedsame, wetsgehoorsame gemeenskap wat toegewyd is aan grondwetlike waardes en oop gesprek. Ons glo optrede wat kulturele of rasgebaseerde verdeeldheid aanhits, is skadelik vir ‘n land wat reeds diep verdeeld is.”

Dit volg nou nadat ’n klein afvaardiging van die MK-party die Afrikaner-nedersetting besoek het in wat hulle beskryf as ’n feitvindingsending.

Die party meen Kleinfontein misbruik moontlik artikel 235 van die Grondwet, wat selfbeskikking toelaat vir gemeenskappe met ’n gedeelde kultuur- en taalerfenis.

Die woordvoerder van Kleinfontein, Dannie de Beer sê hoewel hulle en die MK-party verskillende menings het, waardeer hulle die besoek.

De Beer sê die gemeenskap het die afvaardiging, vergesel deur joernaliste van die SAUK, Eyewitness News en IOL, verwelkom met koffie en koeksisters in die gemeenskapsaal, waarna hulle op ’n begeleide toer deur die dorpie geneem is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui