‘n Man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n bank uit R1,4 miljoen bedrieg het om ‘n luukse BMW M4 Coupe in Noordwes te bekom, is by OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om uit Suid-Afrika te vlug.
Minhaz Ahmed Patel (33) het Maandag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog wat verband hou met die bedrieglike aankoop van die luukse voertuig.
Amogelang Malwetse, woordvoerder van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (HAWKS), het gesê Patel het in Mei 2022 by ‘n motorhandelaar in Klerksdorp om voertuigfinansiering aansoek gedoen.
“Daar word beweer dat Patel bedrieglike dokumente ingedien het, en sy motorfinansiering is deur die bank goedgekeur. Hy het die voertuig daarna ontvang, waarvoor hy nooit enige betaling gemaak het sedert die aankoop daarvan nie,” het Malwetse gesê.
Die wanbeetaling van die R1.4 miljoen het gelei tot ‘n ondersoek deur die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekeenheid.
Na ‘n lang soektog het wetstoepassers Patel opgespoor toe hy op die punt was om die land te verlaat.
“Die verdagte is deur die polisie by OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer terwyl hy op 2 Maart na sy tuisland probeer vlug het,” het Malwetse gesê.
Brigadier Silas Munzhedzi, waarnemende hoof van die Valke in Noordwes en die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, Rachel Makhari, het die ondersoekspan geloof vir hul pogings om te verseker dat geregtigheid geskied.
Patel se saak is tot 13 Maart uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek.
