Vyf verdagtes is noodlottig gewond in polisie-skietery in Ntuzuma, Natal

Vyf verdagtes is dood ná ‘n skietgeveg met die polisie Maandagoggend in Ntuzuma in Natal.

Provinsiale polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda, sê die polisie, wat op intelligensie opgetree het, het die verdagtes na Lindelani opgespoor waar hulle in twee motors gesit het.

“Inligting voorhande het aangedui dat die verdagtes beplan om ‘n sakeroof in KwaMashu te pleeg,” het hy gesê.

Netshiunda het gesê die verdagtes se twee voertuie was op die hoek van Mdubu- en Melusistraat geparkeer en daar word vermoed dat daar onenigheid onder die verdagtes ontstaan het wat daartoe gelei het dat hulle onder mekaar begin skiet het. Die polisie het op die woordewisseling afgekom, en die verdagtes het hul vuurwapens op die beamptes gerig, wat toe teruggeskiet het.

Tydens die skietgeveg is vier verdagtes doodgeskiet. ‘n Soektog in die omgewing van die misdaadtoneel het die liggaam van die vyfde verdagte opgelewer wat probeer vlug het en skietwonde opgedoen het. Drie vuurwapens is by die verdagtes gevind. Geen polisiebeampte is tydens die skietgeveg beseer nie.

Netshiunda het gesê die vyfde verdagte het glo sy vuurwapen laat val toe hy in die river gespring het. Die polisie het ‘n magasyn naby die rivier gevind, maar hulle soek steeds na die vuurwapen.

Nog twee verdagtes wat gewond is toe die verdagtes op mekaar geskiet het, is by ‘n hospitaal opgespoor. ’n Soektog is aan die gang na ander verdagtes wat arrestasie ontduik het.

Netshiunda het gesê in dié stadium het die polisie vasgestel dat twee verdagtes van Wentworth, voorheen vir sake- en huisrooftogte in hegtenis geneem is.

Misdaadstatistieke
Senzo Mchunu, minister van polisie, wat verlede week die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak het, het gesê vir die derde kwartaal het alle provinsies ‘n afname in moordsake aangeteken, wat ‘n beduidende mylpaal in ons nasionale misdaadverminderingspogings merk.

“Gauteng en KwaZulu-Natal bly egter die hoogste bydraers tot algehele nasionale moordsyfers, wat onderskeidelik 0% en 21,4% uitmaak, gevolg deur die Oos-Kaap op 18,9% en die Wes-Kaap op 17,4%,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui