Die oorskot van die twee babas, ‘n seun en ‘n meisie, is opgegrawe en na die staatslykhuis geneem. Die vrou en haar oorblywende baba is in die hospitaal.
Die ouma is in hegtenis geneem nadat gemeenskapslede die polisie ingelig het van ‘n vrou wat geboorte geskenk het, maar versuim het om die babas by die departement van binnelandse sake te registreer.
Die departement van gesondheid en die polisie het die verberging van geboorte verslae opgevolg.
Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die 32-jarige vrou geboorte skenk aan drieling.
“Daar word berig dat een van die babas doodgebore is terwyl die ander een ná twee dae dood is. Met geboorte het die 32-jarige vrou, na bewering met hulp van haar 51-jarige ma, die doodgebore baba in ‘n vlak graf in hul erf begrawe.
“Twee dae later is die tweede baba dood en hy is ook in ‘n vlak graf begrawe. Die oorskot van die twee babas (seun en ’n meisie) is opgegrawe en na die staatslykhuis geneem.”
Die vrou en haar oorblywende baba is in die hospitaal en ontvang mediese aandag.
Die 51-jarige vrou staan tereg op aanklagte van verberging van geboorte en regsverydeling.
Die polisie het gesê ‘n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die twee babas se dood te bepaal.
