Ermelo polisiebevelvoerder moord: Nog bewyse na vore gebring

Die verdagtes is 12 ure na die moord op Luitenant-kolonel Piet Pretorius, die bevelvoerder van die Ermelo voertuigondersoekeenheid op 16 Januarie 2024, in Nelspruit in hegtenis geneem

’n Petisie waarin die Ermelo-landdroshof versoek word om borgtog aan die beskuldigde van die moord op luitenant-kolonel Piet Pretorius te weier, word tans in die gemeenskap gesirkuleer.

‘n Intense ondersoek deur die Valke Secunda-gebaseerde Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan na die moordsaak van luitenant-kolonel Piet Pretorius het meer beweerde kriminele aktiwiteite aan die lig gebring.

Een van die beskuldigdes was ‘n roofslagoffer in Witbank gedurende 2018, waar hy van ‘n BMW beroof is. Dié BMW wat geroof is, is identies aan die een wat in Ermelo aan die brand gesteek is nadat dit vermoedelik as ‘n ontsnapvoertuig gebruik is tydens die moord op luitenant-kolonel Pretorius.

Die ondersoekspan het die woning van een van die moordverdagtes besoek. Drie BMW’s is op die perseel gevind. ‘n Ondersoek het aan die lig gebring dat een van die BMW-voertuie wat by die verdagte se woning gevind is dieselfde voertuig was wat glo ses jaar gelede van die verdagte in Witbank beroof is. Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat daar met die voertuigidentifikasienommers (VIN) gepeuter is.

Boonop is 50 lisensieskyfies en dokumente ook op sy perseel gevind. Sommige van die lisensieskyfiedokumente was reeds gebruik, terwyl sommige nog ongeskonde was. Daar is beslag gelê op die vermeende BMW 325i, asook die voertuigdokumente, en ‘n navraag is vir verdere ondersoek geregistreer.

Hulle sal weer op 27 Januarie in die hof verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui