Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van R4 miljoen by ‘n huis in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte in Kaapstad.
Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê beamptes het ‘n wenk ontvang oor ‘n perseel waar die dwelms gestoor word.
Swartbooi sê die polisie het die dwelms in ‘n versteekte kompartement van ‘n voertuig wat op die perseel geparkeer was, ontdek.
Hy sê, “Gewapen met die inligting dat die geïdentifiseerde adres ‘n stoorplek van een van die groot bendes in Kaapstad is, het hulle die inligting tot hul beskikking geoperasionaliseer. Hulle het op die adres in Volvostraat toegeslaan, al die insittendes onder beheer gebring en die perseel deursoek.”
“Hulle aandag is gevestig op ‘n Hyundai LDV wat op die perseel geparkeer is. Met die inspeksie van die voertuig het hulle ‘n vals kompartement gevind, die kompartement met geweld oopgemaak en 80 000 mandrax-tablette gevind wat in die kompartement versteek was. Hulle het ‘n man van 26 en ‘n vrou van 33 jaar vir die handel in dwelms aangehou,” voeg Swartbooi by.
https://twitter.com/SAPoliceService/status/1881933487621710318
