Video’s en foto’s doen die rondte wat vandalisme van die brug se pilare uitbeeld.
DA Raadslid, Quentin Meyer, het oor die stand van die brug en inligting wat hy vergader het op sy Facebook geplaas. Hy het 13 ure gelede die volgende geplaas:
AMPTELIKE AANKONDIGING
Aandag inwoners,
Ons is bewus van kommer oor die toestand van die betrokke brug. Neem asseblief kennis dat hoewel daar onlangs vandalisme was, die strukturele toestand van die pilare by die basis vir baie jare onveranderd gebly het.
Die situasie is geëskaleer na die streekhoof, Metropolisie en SAPD vir verdere ondersoek. Môre sal die saak ook met die MMC geopper word vir bykomende optrede.
Ons versoek inwoners vriendelik om te verhoed dat ongeverifieerde inligting versprei of onnodige paniek veroorsaak. Opdaterings sal verskaf word sodra meer inligting beskikbaar word.
Dankie vir u samewerking en begrip.
Wyksraadslid
Cllr. Quentin Meyer
Mnr Meyer het ook gemeld dat hy met een van die gemeenskapslede in gesprek was en waardevolle insigte is verkry.
Die persoon met wie hy in gesprek was se pa was die bouer van die brug en dié gemeenskapslid het ook die ingenieur persoonlik geken wat vir die ontwerp van die brug verantwoordelik was.
Die brug is ongeveer 40-50 jaar gelede gebou, en die die sogenaamde snitte wat sigbaar is aan die onderkante van die pilare, is deel van die oorspronklike ontwerp. Hierdie snitte is spesifiek ontwerp om voorsiening te maak vir die natuurlike krimping en uitsetting van die die struktuur. Dit moes ook so gedoen word omdat die area turfgrond het en die struktuur moet dit ook absorbeer.
DIe ontwerp van die President Steyn-brug sluit in wat ‘n “skarnier”genoem word. Die kenmerk is spesifiek bedoel om beweging in die brugstruktuur te akkomodeer.
Volgens terugvoering wat hy ontvang het, is Tshwane bewus van die skade (gebreekte beton rondom die skarniere) en hulle is besig om die kwessie aan te spreek.
Mnr Meyer meld ook dat dieselfde snitte op Google maps se foto’s van 2009 gesien kan word. Daar is bykomende vandalisme, maar Mnr Meyer verseker gebruikers dat hy weer in verbinding sal tree om die saak weer aan te meld en dit opvolg.
Mnr Meyer maan die publiek om kalm te bly en hulsef daarvan te weerhou om paniek te saai. Hy bedank elkeen vir hul geduld terwyl die probleem opgelos word.
