Kristof Slagmulder, verteenwoordiger van Vlaams Belang, het in ‘n onlangse komiteevergadering van die Vlaamse Parlement sy diepe kommer uitgespreek oor die toenemende marginalisering van Afrikaans as onderwystaal in Suid-Afrika.
“Afrikaans is nie net ‘n taal nie; dit is ‘n wesenlike deel van die identiteit van miljoene Suid-Afrikaners en is ook nou gekoppel aan Nederlands,” lui dit.
Slagmulder het gewys op onlangse beleidsmaatreëls waarin universiteite en skole Afrikaans vervang met Engels as primêre onderrigtaal, wat Afrikaans as onderrigtaal in die toekoms onmoontlik kan maak. “Hierdie neiging is kommerwekkend,” het Slagmulder gesê. “Dit is ’n doelbewuste poging om ’n taal en kultuur wat al eeue lank ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse samelewing is, te marginaliseer.”
Slagmulder het ‘n beroep op die Vlaamse regering gedoen om konkrete maatreëls vir die Afrikaanssprekende gemeenskap te tref. Om byvoorbeeld Vlaamse en Suid-Afrikaanse universiteite aan te moedig om samewerkingsprojekte op die been te bring wat gemik is op die studie en bevordering van Afrikaans.
“Vlaandere deel historiese en taalkundige bande met Afrikaans. Dit is ons plig om op te staan vir die regte van hierdie gemeenskap en te pleit vir die behoud van Afrikaans in die onderwys,” sê Slagmulder, wat in hierdie konteks daarop wys dat Vlaminge ook gekonfronteer word met ’n taalstryd, soos die verfransing van die Dender-streek of die Brusselse periferie, en die verengelsing van ons universiteite.”
“Ons kan nie bystaan terwyl ’n taal met soveel geskiedenis en betekenis onderdruk word nie.”
Vlaams Belang sal voortgaan om internasionale aandag rondom hierdie kwessie te vestig en bepleit konkrete aksies om Afrikaans as volwaardige onderwystaal in Suid-Afrika te beskerm en te bevorder.
“Volgens die Afrikanergemeenskap lyk dit of die Suid-Afrikaanse regering druk om die Afrikaner-identiteit en Afrikaans uit te wis, hoewel dit natuurlik ontken word,” sluit die Vlaamse parlementslid af. “Ons kan nie bystaan terwyl ’n taal met soveel geskiedenis en betekenis onderdruk word nie.”
Vertaal uit Vlaams Belang
Kristof Slagmulder (gebore 1979) is ‘n Vlaamse politikus vir die Vlaams Belang-party en ‘n lid van die Vlaamse Parlement sedert 2019.
In die Vlaamse verkiesing van 26 Mei 2019 is hy verkies tot lid van die Vlaamse Parlement vir die Oos-Vlaandere-kiesdistrik met 12 675 voorkeurstemme. Hy dien op die Onderwyskomitee, die Behuisings- en Erfeniskomitee, die Deradikaliseringskomitee en die Komitee vir Buitelandse Beleid, Europese Aangeleenthede, Internasionale Samewerking en Toerisme. In die Vlaamse Parlement spits hy hom toe op sake wat met onderwys en stokkiesdraai verband hou.
Wikipedia
