Twee onthoofde lyke naby Middelburg ontdek

Die polisie in Mpumalanga het ‘n moordondersoek van stapel gestuur nadat twee verminkte lyke naby Middelburg ontdek is.

Twee koplose lyke is in die Avontuur-gebied naby Middelburg in Mpumalanga gevind, berig die Middelburg Observer.

’n Polisiebron het gesê dit lyk asof die lyke na die dood vermink is, aangesien die hande en voete van beide lyke ook vermis is.

Verder blyk dit dat beide slagoffers geskiet is voordat hul koppe, voete en hande afgekap is. Die liggaamsdele is nie naby die lyke gevind nie.

’n Bloedspoor is deur die polisie gevolg, wat na ’n nabygeleë huis gelei het. Die huiseienaar kon nie gevind word nie.

Die huis is gesluit gevind, maar bloed wat buite die huis gevind is, het die polisie laat glo dat die mans moontlik binne die huis aangeval is, waar hulle vermoedelik geskiet is. Daar is vermoed dat die lyke na die plek verskuif is waar die ontdekking gemaak is.

Dit is onduidelik wanneer presies die mans vermoor is.

Die polisie ondersoek ’n moordsaak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui