Meisie (9) gevind wat na bewering deur haar stiefpa verkrag is

“Ons hanteer sulke gevalle meer gereeld as wat ons wil erken en nog een geval is een te veel vir ons. Onlangs het die media van die verskriklikste gevalle aan die lig gebring van hoe ons minderjariges geteiken word en in byna al hierdie gevalle was die oortreders nie vreemdelinge nie.”

Toe ‘n man die Reaksie eenheid Suid-Afrika (RUSA) gebel en sy nege jarige stiefdogter as vermis aangemeld het, het hy nie verwag dat die polisie hom sou verdink van ‘n misdaad nie.

Die hoof van RUSA, Prem Balram, het gesê die kind het op 4 Augustus verdwyn nadat sy haarself verskoon het om toilet toe te gaan.

Hy het gesê om 14:00 op dieselfde dag het hulle ‘n oproep van die stiefpa ontvang dat hy die kind nie kon vind nie.

“Toe ons by die huis aankom en die stiefpa, ondervra het, het hy gesê dat sy stiefdogter die buitetoilet gaan gebruik het en dat hy die afgelope twee uur na haar gesoek het….krukke en al. Die beamptes het aan ondersoek instel, maar die kind was nie daar nie.

Hy het gesê hy het toe ‘n span van 20 beamptes gestuur om na die jong meisie te soek.

“Ons het ook paramedici gestuur, ingeval sy beseer is. Ons het bosse en die paaie deurgesoek. Ons het ‘n skool aan die ander kant van die bos gesien. Ons het oor die meisie gevra en hulle het gesê hulle het haar laas op 1 Augustus by die skool gesien. Sy het nie daardie Maandag skool toe gegaan nie, want sy was ‘siek’,” het Balram gesê.

Hy het gesê RUSA het toe besluit om ‘n plakkaat van vermiste persone met die foto van die 9-jarige te versprei.

“Na 15 minute het ons vier oproepe gekry wat vir ons gesê het dat die meisie by haar tante se huis was, in ‘n ander area. Toe ons by die huis kom, het ons die meisie by haar tante gevind.

“Ons het vir die tante gesê dat dit onwettig is om die kind sonder haar ouers se toestemming te neem. Sy het toe geantwoord dat haar niggie haar gebel het om te sê sy is deur haar stiefpa verkrag.”

Balram het gesê die kind het vir sy vroulike beamptes gesê dat sy gemaak het of sy toilet toe gaan in ‘n poging om te ontsnap.

“Sy het beweer dat sy ure voordat die stiefpa ons gebel het, verkrag is, en dat hy haar ook die week tevore verkrag het.”

Balram het gesê toe hulle die stiefpa ondervra het, het hy gesê daar was vorige bewerings teen hom.

“Hy het beweer dat die familie hom probeer opstel. Ek is nie seker hoekom die meisie steeds in sy sorg gelaat is nie. ‘n Paar uur nadat hy die meisie gevind het, het haar biologiese pa ons gebel en gesê hy glo dat sy dogter verkrag word.”

Die woordvoerder van die KZN-polisie, lt.-kolonel Paul Magwaza, het gesê die speurders van die Phoenix-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) het ‘n 36-jarige man in hegtenis geneem vir die verkragting van die negejarige meisie.

Hy het verlede Woensdag in die Verulam-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1500 vrygelaat.

Thuba Vilane, woordvoerder van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, het gesê hul maatskaplike werkers het die meisie reeds besoek en sal voortgaan om saam met die gesin te werk om haar beste belange te verseker.

Hy het bygevoeg dat hulle bekommerd is oor die toename in aanmeldings van verkragtingsake.

“Die aantal oproepe van verkragting van jong meisies en kinders in die algemeen is baie kommerwekkend.

Die KZN Maatskaplike Ontwikkelings-LUR, Mbali Shinga, het die kwessie en kommer rondom geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling in die jongste portefeuljekomiteevergadering geopper,” het hy bygevoeg.

Rachel Wilkin, die voorsitter van die Verulam Gemeenskapspolisieforum, het gesê: “Wanneer ‘n voorval van kindermishandeling aan die lig kom, moet dit onmiddellik by die polisie en die betrokke kinderbeskermingsorganisasies aangemeld word sodat die korrekte meganismes vir ondersoek geaktiveer kan word. Dit is almal se burgerlike plig om sulke gevalle aan te meld.”

Sy het ook ‘n kommerwekkende toename in kindermishandelingvoorvalle in en om Verulam opgemerk.

“Dit is dikwels ‘n versteekte misdaad. Mense huiwer om dit om verskeie redes aan te meld – gesinsverbrokkeling, die oortreder as die broodwinner, of vrese vir hul eie veiligheid, veral wanneer die misbruiker ‘n geliefde is.

“Soms waardeer mense genesing meer as geregtigheid, en dis oukei, maar hulle kan steeds hulp soek om te verseker dat die mishandeling stop en aangespreek word. Sonder aksie kan daar geen veiligheid of herstel wees nie.”

Keresha Govender, ‘n sielkundige welstand- en lewensafrigter van die DSK Groep NPO, het gesê baie seksuele aanrandingsgevalle word nie aangemeld nie uit vrees vir die gevolge van die familie en die oorlewende.

“Die meeste minderjariges word deur oortreders ge”groom” en is dus te bang om na vore te kom. Ander wat wel praat, se monde word gesnoer as gevolg van sosiale stigmas en finansiële afhanklikheid. Gevolglik het ons ‘n bose kringloop van mishandeling wat voortduur en oorlewendes wat nie die ingryping ontvang wat hulle nodig het en verdien nie.

“In baie gevalle vind ons dat oorlewendes finansieel afhanklik was van die oortreders of hul direkte familielede.”

Govender het gesê hulle het ook ‘n toename in gevalle van seksuele aanranding op kinders gesien.

“Hierdie gevalle het vinnig toegeneem en ons as ‘n gemeenskap moet ‘n standpunt inneem en weet dat dit ons almal se verantwoordelikheid is om ons kinders te beskerm, waaksaam te wees, veilige ruimtes te skep vir ons kinders om te praat en gehoor te word.

“Ons hanteer sulke gevalle meer gereeld as wat ons wil erken en nog een geval is een te veel vir ons. Onlangs het die media van die mees verskriklike gevalle aan die lig gebring van hoe ons minderjariges geteiken word en in byna al hierdie gevalle was die oortreders nie vreemdelinge nie.

“Die werklikheid is dat ons nie ons kindertjies moet waarsku om versigtig te wees vir mense vir wie hulle lief is nie, maar ons moet ons kndertjies waarsku om versigtig te wees vir enigiemand en almal. Ons kan nie as ‘n gemeenskap versigtig genoeg wees nie. Ons het nodig dat die boodskap hard en duidelik moet wees. Ons het nodig dat die gevolge nog harder moet wees en ons moet elke moontlikheid en geleentheid kan gebruik om dit bekend te maak,” het Govender gesê.

Ongelukkig lê daar ook baie sake van verkragting en gesinsgeweld op rakke by die SAPD en stof vergader. “Dockets” verdwyn of word selfs van een provinsie na ‘n ander gestuur en so val geregtigheid deur die krake terwyl die predatore vryelik steeds voortgaan met hul wrede aanvalle op kinders. Moenie dink die gawe omie of tannie , nefie of maatjie is ‘n veilige hawe nie…….die vyand wat hulle vieslike hande nie van jou kind kan afhou nie, is gewoonlik die een van wie jy dit die minste verwag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui