Gewapende bende steel 300 liter diesel van Bergville-padprojek

‘n Gewelddadige bende van ses gewapende mans, wat vermoedelik verbind word met die konstruksiemafia, het ‘n konstruksieterrein in die landelike gebied van Bergville in Natal bestorm en 300 liter diesel gesteel.

Die rooftog het sterk veroordeling vanNatal se LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, ontlok.

Volgens Duma het die misdadigers konstruksiewerkers met ‘n vuurwapen aangehou voordat hulle met die diesel verdwyn het. Die voorval het plaasgevind op ‘n terrein waar ‘n groot padrehabilitasieprojek aan die gang is. Die P304-pad word herbou teen ‘n koste van R177 miljoen.

“Hierdie pad dien as ‘n belangrike skakel wat Bergville met Maloti Drakensberg Park/Royal Natal Park deur die R74 verbind,” het Duma in ‘n verklaring gesê wat Dinsdag uitgereik is.

“Die pad speel ‘n belangrike rol in terme van die stimulering van landelike ekonomieë vir gemeenskappe wat onder die las van armoede leef.”

Die P304-roete is beskadig tydens die verwoestende vloede wat dele van KwaZulu-Natal getref het, wat gemeenskappe geïsoleerd en afgesny van hospitale, skole en sosio-ekonomiese sentrums gelaat het.

Duma het gesê die departement se belegging is daarop gemik om te verseker dat die pad veilig en bruikbaar bly, wat help om sleutelsektore van die ekonomie, insluitend landbou en toerisme, te laat herleef.

Duma het die rooftog as die eerste voorval op hierdie projek beskryf en bevestig dat ‘n saak by die Bergville-polisiestasie aanhangig gemaak is.

“Ons is vol vertroue dat die KZN-polisiekommissaris, lt.-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, en sy span die misdadigers sal aankeer,” het hy gesê.

Duma het ook plaaslike tradisionele leiers en die breër gemeenskap geprys vir hul opstand teen die misdadigers.

“Ons salueer Inkosi Njabulo Miya van die Emazizini Tradisionele Raad, die izinduna en die hele gemeenskap vir hul openbare vertoon van woede en teenkanting teen hierdie misdadigers wat probeer om die projek te ontspoor.”

Hy het enigiemand met inligting oor die voorval versoek om die naaste polisiestasie te kontak en gesê: “Daar moet geen plek wees vir konstruksiemafiabendes in dorpe, townships, voorstede of enige plek in KZN nie.”

IOL

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui