In een van die grootste sake in die hooggeregshof in Port Elizabeth, is ‘n Paradise Beach pa skuldig bevind aan meer as 700 aanklagte, onder meer verkragting, aanranding en mensehandel.
Die 58-jarige man, wat nie benoem kan word om die identiteit van sy kinders te beskerm nie, het sy tienerdogter oor ‘n paar jaar verkrag en seksueel aangerand en sou die dade dikwels verfilm.
Die oortreder is ook skuldig bevind aan bloedskande, die seksuele uitbuiting van kinders, seksuele voorbereiding (grooming) en die skepping, besit en verspreiding van kinderpornografie.
Hy is onskuldig bevind op een klag van verkragting en bestialiteit.
Tydens uitspraak van die vonnis het regter Nyameko Gqamana gesê die man se dogter het duidelike en gedetailleerde getuienis gelewer oor die aanklagte van verkragting en seksuele oortreding.
Volgens Gqamana het die staatsadvokaat Ismat Cerfontein haar saak bo redelike twyfel bewys.
Hy het gesê die staatsgetuies is almal geloofwaardig en eerlik en hulle het mekaar oor alle materiële aangeleenthede bevestig.
Gqamana het gesê die beskuldigde was nie ‘n geloofwaardige getuie nie. Hy het opgemerk dat hy tydens sy getuienisbetoog ontwykend was.
Senior adjunkdirekteur van openbare vervolging, Indra Goberdan, het die uitspraak verwelkom en die vervolgingspan geprys vir hul pogings.
Tydens die verhoor het die 22-jarige stiefseun van die man, wat reeds ‘n vonnis van 20 jaar uitdien nadat hy skuldig gepleit het op die misdade, teen hom getuig.
