Inwoners in verskeie dele van Bronkhorstspruit ervaar ‘n kragonderbreking weens ‘n kabeldiefstalvoorval op 22 April.
Volgens Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, kry die saak tans volle aandag van die munisipaliteit aangesien ‘n span daarop uit is om die toevoer te herstel.
“Die instandhoudingspan is tans besig om die omvang van die skade wat deur hierdie diefstal veroorsaak is, te bepaal om die nodige herstelwerk te bewerkstellig,” het hy gesê.
Hy het gesê die beraamde tyd vir herstel is nog nie bekend nie, maar die stad se fokus bly egter daarop om krag na geaffekteerde gebiede so vinnig moontlik te herstel.
Tshwane vra om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak is en pleit vir inwoners se samewerking gedurende hierdie tydperk van onderbreking.
