‘n 44-jarige polisiebeampte, gebaseer in Gauteng, is in Limpopo in hegtenis geneem nadat hy in besit gevind is van nyaope-dwelms en ‘n vermoedelik gesteelde voertuig.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, brigadier Hlulani Mashaba, is die polisiebeampte Woensdag onderskep terwyl hy langs die N1-Suid-snelweg, buite Polokwane, gery het.
“Die polisiekonstabel van Silverton-speurderkomponent is in besit gevind van 2 095 sakkies nyaope ter waarde van ongeveer R85 000 en het ‘n vermoedelik gesteelde Nissan NP200 met Gautengse registrasieplate bestuur,” het Mashaba gesê.
“Die voertuig is naby Shell Ultra City onderskep tydens ‘n intelligensie-gedrewe operasie deur die provinsiale anti-smokkeleenheid, saam met Tshimollo private sekuriteit.”
Die polisiebeampte was gewapen met sy dienspistool, waarop beslag gelê is tydens sy arrestasie.
Intussen het die provinsiale kommissaris van polisie in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, die vinnige arrestasie van die beskuldigde polisiebeampte geloof.
Hadebe het ‘n streng waarskuwing uitgereik en gewaarsku dat “enige polisiebeampte wat kies om die wet te oortree, ernstige gevolge in die gesig staar”.
“Die arrestasie van hierdie beampte moet ‘n duidelike waarskuwing stuur dat niemand bo die wet verhewe is nie,” het sy bygevoeg.
Die polisiebeampte is by die Westenburg-polisiestasie aangehou en sal Donderdag voor die Polokwane-landdroshof verskyn.
Die wetstoepasser is aangekla vir die handel in dwelms en die besit van ‘n vermoedelik gesteelde motorvoertuig.
