Dwelmhandelaar kry 12 jaar tronkstraf vir besit van Mandrax met ‘n waarde van R2,5 miljoen

’n 62-jarige man met ’n massiewe aantal Mandax wat in sy motor versteek is, is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis.

Chad Berry, die verdagte, is in Oktober 2022 by ‘n Vehicle Check Point (VCP) op die N1 naby Beaufort-Wes voorgekeer, het luitenant-kolonel Siyabulela Vukubi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê.

“Tydens die operasie is ‘n verdagte silwer Toyota Grande met een insittende voorgekeer en deursoek. Tydens die soektog is ‘n vals kompartement ontdek waar 50 pakkies met Mandrax-tablette gevind is ter waarde van R2,5 miljoen. Kontant ter waarde van R11 500 is ook gevind,” sê Vukubi.

Die Beaufort-Wes-streekhof het hom skuldig bevind aan dwelmhandel en op 25 Februarie ’n vonnis van 12 jaar opgelê.

Die hof het beveel dat die gekonfiskeerde kontant aan die staat verbeur en in die Kriminele Bateherwinningsrekening (CARA) gedeponeer word.

Die hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, ook bekend as Valke, generaal-majoor Makgato, het die skuldigbevinding verwelkom en die spanwerk geprys wat gelei het tot die verdagte se arrestasie. Hy het gesê pogings soos hierdie is die sleutel in die aanpak van die dwelmhandel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui