Honderde studente aan die Universiteit Stellenbosch het Donderdag met ‘n betoging begin en die instelling gesluit oor registrasiekwessies.
Hulle het van een fakulteit na die volgende geskuif en studente uit lesinglokale verwyder. Is dit blatante intimidasie?
Namate die betoging na die Regsfakulteit verskuif het, het meer studente aangesluit terwyl hulle van gebou tot gebou beweeg het.
Mzwakhe Bolotina, sekretaris-generaal van die SR, het die optoggangers toegespreek en gesê: “Daar moet solidariteit wees. Ons maak nie grappies hier nie.
“Die kwessie raak jou dalk nie, maar dit raak ons.”
Hulle het ook deur die eetlokaal gegaan en studente gesteur wat aanhou eet het.
’n Student in EFF-regalia het gesê ‘die narre is dié wat nie by hulle wil aansluit nie’.
Hy het aan studente by die Jan Mouton-leersentrum gesê: “Ek is nie hier om jou of jou vrede te versteur nie. Dit is baie bevoorreg van jou om hier te sit en ‘n lesing te kry. Daar is baie studente daar buite wat Vrydag gederegistreer word. Al wat ons vra is jou ondersteuning. Die jaar 2025 gaan ons 1994 wees.”
Dit is ongelukkig dat intimidasie op universiteitkampusse voorkom. Die EFF-regalia student laat sy woorde soos ‘n dreigement klink en dit is ongetwyfeld iets waaraan die regering van die dag aandag moet skenk….wanorde en chaos word toegelaat en dit is skokkend dat die opkomende jeug hulself nie kan beheer nie.
Sodra daar meer inligting beskikbaar is, sal dié artikel opgevolg word.
