Die hooggeregshof in Pretoria het sy deure tydelik gesluit weens wateronderbrekings en nie-funksionele kragopwekkers. Dié sluiting volg op ‘n soortgelyke situasie net ‘n week vroeër toe die hooggeregshof in Johannesburg ook gesluit het weens water tekorte.
Die kantoor van die hoofregter (OCJ) het Dinsdag in ‘n verklaring die publiek, hofbeamptes en regspraktisyns in kennis gestel dat die hof sy bedrywighede tydelik sal staak weens die water tekorte.
Dit is as gevolg van beurtkrag in Pretoria SSK wat die hof en omliggende geboue raak.
“Geaffekteerde partye sal gekontak word oor alternatiewe reëlings vir alle sake wat op die hofrol vir die dag geskeduleer is. Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak word,” lui die verklaring.
Die stad het inwoners ook om verskoning gevra vir die ongerief wat die kragonderbrekings veroorsaak het en hulle verseker dat tegnici die kwessie aktief aanspreek.
“Die stad is bewus van ‘n kragonderbreking wat dele van die Pretoriase middestad en Marabastad raak. ’n 132kV-transformator het ‘n kortsluiting by die Boomstraat-substasie ondervind en tegnici is reeds besig om die probleem aan te spreek.
“Die stad vra om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak word deur hierdie onbeplande onderbreking van kragtoevoer,” het dit gesê.
Dit het gesê die geskatte tyd van herstel sal eers bepaal word sodra die oorsaak van die kortsluiting geïdentifiseer en vasgestel is.
Die sluiting van die hooggeregshof in Johannesburg, saam met die Noord-Gautengse hooggeregshof in Tshwane, raak twee van die besigste en grootste howe in die land.
Onder die sake wat geraak word, is die Demokratiese Alliansie (DA) se beroep op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oor die voortslepende waterkrisis.
