Die landdroshof in Randburg het borgtog geweier vir Darren Wilken en Tiona Moodley, ‘n Gautengse egpaar wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n kinderpornografieverspreidingsoperasie bedryf het.
In die uitspraak, wat Vrydag gelewer is, het landdros Pravina Raghunandan gesê die egpaar se vrylating op borgtog sal openbare vrede en veiligheid ondermyn en die belange van geregtigheid in gevaar stel.
Hulle moet weer op 24 Maart in die hof verskyn.
Wilken (35) is op 17 Januarie in Midrand in hegtenis geneem. Moodley (25) is op 23 Januarie in Houghton in hegtenis geneem.
Tydens Wilken se inhegtenisneming het die polisie gesê ‘n span ondersoekers verbonde aan die nasionale en Gautengse provinsiale reeks- en elektroniese misdaadondersoekeenhede (SECI) onder leiding van die komponenthoof vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), het op sy huis toegeslaan waar hulle ‘n aantal elektroniese toestelle gevind het wat vermoedelik seksuele mishandeling van kinders bevat en dat dit gekonfiskeer is.
“‘n Forensiese ontleding van hierdie toestelle is op die toneel deur kubermisdaadkenners gedoen, ‘n geraamde 10 miljoen kinderpornografiese foto’s en video’s is tot dusver opgespoor,” het die polisie gesê.
Daar is ook beslag gelê op ‘n groot bedrag kontant, wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is.
