Skrifgedeelte: 1Kn 12:24 So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die HERE en weer teruggetrek volgens die woord van die HERE.
Oordenking: Die Skrifgedeelte kom uit die geskiedenis van Salomo en sy opvolger seun, Rehabeam. In hoofstuk 11 lees ons hoe God aankondig dat Hy, as gevolg van Salomo se afgode diens, waartoe hy verlei is deur sy vroue, dat Hy na Salomo se dood die twaalf stamme gaan verdeel en Rehabeam sal net ‘n enkele stam oorhou. In hoofstuk 12 gebeur dit toe. Rehabeam wil egter die elf stamme wat wegbreek met geweld dwing om die eenheid te bewaar. Dan stuur God die profeet Samanja om die boodskap van ons Skrifgedeelte aan Rehabeam oor te dra.
God verdeel dus die Volk op grond van hulle afgode diens in navolging van Salomo.
In Genesis 11, by die geskiedenis van die toring van Babel lees ons in vers 6 En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.
Uit veral hierdie gedeeltes leer ons hoe God in sy Soewereiniteit verdeeldheid gebruik om die mens te betuig! Ons volk het ‘n wêreld bekende vegters vernuf. Ons verwys baie graag met trots ( ek verkies om eerder die woord dankbaar te gebruik) na ons vegkuns van die verlede. Inderdaad merkwaardig!
Ek laat hierdie lyn van die saak net so vir ‘n wyle daar, want daar is ‘n tweede saak wat hierby aansluit.
Die gelofte van Bloedrivier, die oorspronklike soos deur Jann Bandjes opgeteken in aanloop tot die Bloedrivier geveg, beloof vir God ‘n Godsvolk, ‘n Gods huishouding. Die kerkie op Pietermaritzburg kan op die meeste simbolies van dié belofte wees. Van ‘n huishouding sê Christus in Mt.12:25 Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.
Dus! Ons beloof vir ons hemelse Vader toe ons in die nood is, toe ons uitwissing in die oë kyk dat ons vir Hom ‘n Gods-huishouding ten aanskoue van die wêreld sal wees. Daarna raak ons só in ons skik met onsself dat ons as gevolg van die voorspoed wat die Vader ons laat toekom, net so afvallig soos Salomo word. Ons weet dat God nie vergeet nie! Hy onthou wat Hom belowe is en eis dit op. Hy verdeel ons tot so ‘n mate dat mens vandag met reg kan vra: waar is die volk!
Hierdie verdeeldheid bring ons terug na ‘n Bloedrivier situasie. Ons staar weer uitwissing in die oog! Anders as op die walle van die Wasbankrivier, is ons nou so verdeel dat daar ‘n totale magteloosheid van ons besit geneem het. Nou roep ons baie graag die die ou Transvaalse leuse uit: Eendrag maak mag! Daarmee ‘n groot aandrang tot eenheid.
Met alle respek teenoor ons voorouers: dit is nie eendrag wat mag gee nie, eendrag in Christus wél! Aan die eenkant het ons dus eendrag voor God beloof, maar omdat ons fondamente gekraak het, het God self daardie mate van eendrag wat daar was kom versplinter tot die punt waar ons vra: waar is die volk?
Ons staar weer uitwissing in die oog! Terug na die eenheid in Christus is die enigste pad, weet ons, maar daardie eenheid het ‘n definisie! God skryf sélf die aard van daardie eenheid voor! Hy het Jan Van Riebeeck gestuur om daardie verstaan, daardie definisie te kom plant. In dieselfde definisie is die gelofte afgelê.
Hoeveel kanse het ons Vader ons nie gegee om dit te doen nie? Hoe goddeloos het ons nie geraak nie! Selfs nou te midde van ons nood bly ons in ons eiesinnige verdeeldheid! Ek wil nie my lyf profeet hou nie, maar ons is, soos oud Israel op pad woestyn toe. Daar waar ons gestroop van alles, tyd sal hê om na te dink, te besin en te bekeer! Daar sal ons weer by die geloof van Van Riebeeck, soos uit een gesit in die vorige vyf oordenkings kom!
Eenheid is beloof, maar God sal dit nie laat slaag voor wat aan Hom beloof is nie tot uitvoer kom nie. ‘n Bekering tot ‘n lewensstyl wat is soos die Woord voorskryf en ‘n eendragtig dáarin. Eendragtig in leér en in léwe! Daar kan geen volks eenheid wees sonder geloofs eenheid nie!
Gebed: Hemel Vader ons bid nie vir ons redding nie, maar dat U die eer sal kry wat U toekom! Wees ons tog net genadig in die proses asseblief Vader! AMEN
Dr. Gideon Grobler
