Kinderprostitusie-saak: ma soek borg; advokaat van aangeklaagde prokureur onttrek

Volgens die regsverteenwoordiger van die ma, het daar nuwe inligting na vore gekom wat nou lei tot ‘n hernude poging om borgtog te kry.

Die rondgaande hooggeregshof in die Palm Ridge-landdroshof het Maandag gehoor die ma (40) wat glo haar twee minderjarige dogters vir prostitusie uitverhuur het, het aangedui dat sy ʼn borgtogaansoek op grond van nuwe feite gaan indien.

Harold Davids, die ma se regsverteenwoordiger, het aangedui dat hy reeds die hofrekord van die vrou se eerste borgtogaansoek in die landdroshof aangevra het. Hy het nie uitgebrei oor waarom daar juis nou, nadat die verhoor reeds ver gevorder het, besluit is om ʼn nuwe borgtogaansoek in te dien nie.

Sy staan saam met Callie Schoeman (36), ʼn prokureur van Heidelberg, op verskeie seksverwante aanklagte tereg. Hulle word gesamentlik vervolg op meer as 70 aanklagte wat insluit verkragting, die handel van kinders, die versuim om ʼn slagoffer van mensehandel aan te meld, seksuele aanranding, die besit en vervaardiging van kinderpornografie, die seksuele uitbuiting van minderjariges, die seksuele gereedmaking van ʼn minderjarige, kindermishandeling en die rig van ʼn vuurwapen.

Schoeman se saak het eweneens ook vir die afsienbare toekoms tot stilstand gekom nadat hy sy regsverteenwoordiger, adv. Deon Pool, se mandaat beëindig het.

Pool het Regter Rian Strydom ingelig sy mandaat is gestaak weens ʼn “konflik van belange”.

Pool het op vrae van die regter dit slegs vir die hofrekord gestel het dat die opdraggewende prokureur, Raymond Eastes, op die punt staan om hom by die Regspraktisynsraad te verkla.

Eastes het ʼn verklaring ingedien, met onder meer redes waarom Pool afgedank en daar vir uitstel gevra word.

“Die redes hoef nie hier bespreek te word nie aangesien dit iets is wat die regsverteenwoordigers aanraak en mnr. Pool aangedui het hy is gekant daarteen dat hy by die Regspraktisynsraad verkla gaan word,” het Strydom gesê.

Davids, die ma se regsverteenwoordiger, het dadelik gevra dat Eastes onmiddellik moet bevestig of Schoeman genoeg geld gaan hê om ʼn nuwe advokaat te betaal. Adv. Riana Williams, staatsaanklaer, het ook gesê “die staat hoor alarms lui” as daar bekommernis oor geld is.

Volgens Eastes ondervind Schoeman, wat steeds ʼn praktiserende prokureur op Heidelberg is, ‘n probleem om ‘n inkomste te genereer omdat hy elke Saterdag as deel van sy borgtogvoorwaardes by die polisiekantoor moet aanmeld. Eastes het daarom ʼn aansoek ingedien wat Strydom toegestaan het, naamlik dat hy minstens 12 uur voor die tyd die ondersoekbeampte in kennis moet stel as hy vir werk oor ʼn naweek moet reis en twee uur andersins in die week. Dié voorwaardes geld slegs as hy Gauteng vir werk moet verlaat. DIt is onbekend hoekom Schoeman steeds toegelaat word om te praktiseer as die aangklagte teen hom so ernstig is.

Strydom het die saak hierna voorlopig tot in Februarie uitgestel sodat daar eers vasgestel kan word of Schoeman nuwe regsverteenwoordiging bekom het vir die verhoor om dan in Maart hervat te word.

Regter Rian Strydom het reeds getuienis aangehoor van verskeie gastehuiseienaars, waar die oudste sussie na bewering afsprake met Schoeman nagekom het, asook ʼn mediese verslag van ʼn staatsdokter wat die meisie ondersoek het en interne beserings opgemerk het.

Verder het die meisie se ouma in ʼn verklaring die ondersoekbeampte meegedeel die meisie haat haar ma omdat dié haar glo uitverhuur het.

Davids het buite die hof gesê: “Sy is nie ʼn vlugrisiko nie en het ʼn adres waar sy sal kan woon vir die duur van haar verhoor,”

Hy wou nie meer besonderhede bekend maak oor wat die nuwe feite in die saak behels nie, behalwe om te sê hy is van mening die landdroshof het destyds gefouteer deur die vrou se borgtogaansoek te weier.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui