Gautengse hooggeregshof laat publikasie van matriekuitslae toe

Regter Ronel Tolmay van die Gautengse hooggeregshof, Pretoria, het Woensdag die aansoek deur die Inligtingsreguleerder (IR) om die departement van basiese onderwys te verbied om die resultate in die media te publiseer, van die hofrol geskrap.

Die regter het beklemtoon dat sy nie die meriete van die aansoek hanteer het nie, maar in hierdie stadium slegs met die dringendheid gehandel het. Sy het bevind dat die IR se dringendheid, toe hy op die nippertjie hof toe gehaas het, self geskep is.

Die IR het gesê hy het geen ander keuse as om hom nou tot die hof te wend nie, aangesien dit duidelik geword het dat die departement geweier het om ‘n afdwingingskennisgewing wat deur die IR aan hom uitgereik is te gehoorsaam aan en die departement beveel om nie die resultate te publiseer nie.

Dit het gevolg op ‘n assessering wat die IR gedoen het oor of dit die leerders se regte op beskerming van openbare inligting sou inbreuk maak as die resultate in die media gepubliseer word. Daar is bevind dat dit die geval is, en die IR het die departement daarna beveel om nie vanjaar die resultate te publiseer nie.

Die departement het egter ‘n appèl teen die afdwingingskennisgewing aanhangig gemaak.

Regter Tolmay het gesê die verslag oor die assessering wat gedoen is, is reeds 10 maande gelede deur die IR uitgereik en hy ken die standpunt van die departement oor die aangeleentheid.

Op die besigste tyd vir die departement – in Desember – het hy egter gekies om hof toe te haas. Dit, het sy gesê, is selfgeskepte dringendheid.

Sy het ook gesê sy kan nie die feit ignoreer dat die departement teen die afdwingingskennisgewing sal appelleer nie.

Die regter het gesê die resultate is al jare in die media gepubliseer en sy bevraagteken hoekom dinge vanjaar anders moet wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui