Oudpresident Jacob Zuma se seun Duduzane het ‘n streng waarskuwing gegee aan diegene wat Donderdag ‘n betoging buite sy pa se huis aangehits het.
Dit kom nadat ‘n groep ontevrede MK-partylede van Natal geëis het dat drie lede van die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) wat in Januarie geskors is, heraangestel word.
Daar word geglo dat die trio hulle aan die verkeerde kant van die party se sekretaris-generaal Floyd Shivambu bevind het vir verskeie oortredings wat met partyfondse verband hou.
Luidens ’n verklaring wat Woensdag deur die MK-party uitgereik is, sal die drie geskorste lede, Kwazi Mbanjwa, Thobani Zuma en Sifiso Zuma, vertoë voor ’n dissiplinêre komitee moet rig.
Thobani en Mbanjwa word daarvan beskuldig dat hulle geweier het om die beheer van die party se fondse van die Natalse wetgewer oor te gee. Daar word geglo dat hierdie fondse – sowat R60 miljoen – geld is wat bedoel is vir kiesafdelingswerk en salarisse.
Sifiso, wat die party se koukusbestuurder is, word daarvan beskuldig dat hy 60 mense in diens geneem het sonder toestemming van die betrokke party-owerhede.
Prof Theo Neethling, ’n politieke ontleder van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gesê die MK se probleme spruit uit ‘n gebrek aan behoorlike strukture. Hy wys daarop dat die MK-party nie ‘n elektiewe konferensie gehad het nie en het nie gevestigde kantore in verskillende provinsies nie.
Hy het gesê dit sal ‘n administratiewe nagmerrie vir die party skep.
“Die probleem is anders as die DA en die ANC. Die MK-party se bedrywighede is op ‘n ad-hoc wyse. Jy kan nie ’n party so bestuur nie,” het hy gesê.
Neethling het gesê Shivambu kan ook ‘n mate van weerstand in die MK-party ondervind.
“Ek dink nie dit is verkeerd om te suggereer dat daar ‘n sterk gevoel van Zoeloe-nasionalisme daar is nie. Hy is net daar omdat Zuma so besluit het,” het hy gesê.
Neethling het gesê hy glo dat Zuma die MK op sy eie manier bestuur deur nabye familielede by die bestuur van die party in te sluit, soos sy dogter Duduzile Zuma.
Hy het egter gesê hy glo nie dat Duduzile dieselfde politieke insig as haar pa het nie.
“Duduzane aan die ander kant het ambisies in die politiek. Ek dink Duduzile is haar pa se ondersteuner, maar of Duduzane aanvaar sal word om die MK te lei, sal ons moet sien,” het hy gesê.
