Die liggaam van ‘n driejarige seuntjie wat Donderdag vanaf ‘n plaas in die boonste Tongaat-omgewing vermis geraak het, is gevind.
Dit volg op die inhegtenisneming van die ontvoerde kleuter se stiefpa Vrydagoggend ná ‘n 24-uur lange soektog. Hy het die misdaadtoneel aan speurders uitgewys, wat gelei het tot die ontdekking van die seun se oorskot.
Die man het na bewering Donderdag ook ‘n sewejarige kind met ‘n panga aangerand. Hy moes met ernstige nek- en kopbeserings hospitaal toe gehaas word.
Die Umhlali K9-eenheid, IPSS Soek-en-reddingspanne en verskeie instansies, bygestaan deur lede van die gemeenskap, het Vrydagoggend na die gebied teruggekeer om die soektog na die vermiste kind voort te sit.
Die lyk is om 14:00 gevind, sowat 250 meter van hul huis af.
Samantha Meyrick, IPSS-soek-en-reddingswoordvoerder, het die arrestasie van die volwasse man bevestig.
“Die stiefpa is aan Sapd oorhandig om te help met die voortgesette ondersoek,” het Meyrick gesê.
