Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) het ‘n Rubella-uitbraak (Duitse masels) in Suid-Afrika bevestig, wat hoofsaaklik kinders onder tien jaar en swanger vroue affekteer.
Simptome van die virusinfeksie sluit in koors, uitslag, loopneus, rooi oë en hoes.
Die NICD het beduidende risiko’s vir swanger vroue uitgelig, veral dié in die eerste trimester, aangesien blootstelling aan Rubella kan lei tot Kongenitale Rubella Sindroom (CRS). Hierdie toestand kan ernstige abnormaliteite by ongebore babas, insluitend hartdefekte, blindheid en doofheid, veroorsaak.
Dr. Kerrigan McCarthy, woordvoerder van die NICD, het swanger vroue aangeraai om mediese advies in te win indien hulle in kontak was met ‘n besmette persoon.
“As ‘n ma met Rubella gediagnoseer word terwyl sy swanger is, moet sy na spesialisverloskundige dienste verwys word waar sy oor die gesondheid van haar kleinding ingelig sal word. Die NICD verwag dat die Rubella-uitbreking teen die einde van die jaar of vroeg in Januarie verby sal wees,” het McCarthy gesê.
Om die uitbreking te stuit, het die Departement van Gesondheid die Rubella-entstof vir kinders van ses en nege maande ingestel, het McCarthy bevestig.
