Skrifgedeelte: Titus 3:5 nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees
Oordenking:
1. In die eerste oordenking van die reeks uit vyf het ons gesien dat die mens in totaliteit verlore is. Daar het van hom niks oorgebly op grond waarvan hy iets goed sou kon doen nie óf om vir God te kies nie.
2. In die tweede oordenking het ons geleer hoe God in sy Soewereiniteit, sonder énige moontlikheid dat die mens iets kan bydra, uit al die siel dooie mense, dooie siele gekies het wat Hy tot lewe bring.
3 Die derde oordenking, het oor die vraag gegaan of Christus vir alle mense gesterf het of net vir Sy uitverkore kinders. Uit die Skrif het ons die duidelike antwoord gekry: net vir die uitverkorenes!
4 Die vierde vandag, handel daaroor dat die genade van God, soos deur die Heilige Gees (HG) bewerk, nie weerstaan kan word nie.
Om die leerstuk dat die genade nie weerstaan kan word nie, Bybels te toets, moet ons eers weet wat dit sê.
In kort: Saam met die uitwendige roeping tot redding, wat aan alle mense gerig word, eers deur die Algemene Openbaring en dan in die besondere, die Besondere Openbaring, wat die Evangelie is, is daar ook die inwendige roeping wat tot die uitverkorenes kom, om hulle sonder twyfel tot redding te bring.
Die uitwendige roeping word dikwels verwerp, omdat die gevalle mens God haat, (Rom.8:7&8) ,maar die uitverkorenes kan dit nie verwerp nie! Hulle harte word verander deur die werk van die HG en hierdie inwendige roeping eindig altyd by bekering. Die HG trek hierdie geroepenes na Christus.
Die HG kan nie deur die mens se sg. Vrye wil aan bande gelê word nie. Die HG het nie die mens se toestemming nodig om hom tot geloof te bring nie, Hy doen dit eenvoudig. Dit gebeur nie so dat die mens ast’ware vas skop en nee skree terwyl die HG hom na Christus trek nie, die soewereine God verander die denke, lei die gedagtes van die hart en verstand dat die mens dit gewillig doen!
In teenstelling hiermee kan ons sê, sê die moderne kerk in navolging van die Armenianiste:
Die HG roep innerlik tot almal wat uitwendig geroep is. Hy doen alles wat Hy kan om elke sondaar tot geloof te bring. Omdat die mens volgens hierdie leer, met sy vrye wil, sélf kan besluit, kan die mens suksesvol die roeping van die HG weerstaan. Hoor u hoe hierdie leerstelling God afhanklik van die mens maak? Eers moet God sy bés doen om die mens te oortuig en dan is die mens se wil sterker as God s’n! Die aanhangers van Arminius ( wat vandag algemeen bekend staan as die Charismatiese) leer verder dat die HG kan die sondaar nie tot wedergeboorte bring voor die sondaar nie tot geloof kom nie (en dit hang van die mens af). Dus die mens se vrye wil beperk die HG in die reddings werk van God se genade. Die HG kan net dié na Christus trek wat deur die mens toegelaat word om dit te doen. Totdat die mens reageer, kan die HG nie lewe gee nie.
Hierdie leer in al sy vertakkings deesdae, want daar is heelwat strominge wat bietjie van mekaar verskil, maar in wése, almal na dié punt terugkom. Hierdie leerstelling, wat onder andere sê dat Christus vir almal gesterf het, maar sommige gaan steeds verlore, beteken dat hierdie mense uit hul eie God se genade kon weerstaan. Kom ek sê dit anders: As Christus vir almal gesterf het dat almal gered kon word, maar almal is nie, want die mense het vir God “nee” gesê, beteken dit mos dat God in sy doel misluk het!
Tweedens beteken dit dat die mens perke aan God se werk kan stel!
Die Armenianiste hou aan probeer om die mens ‘n deel in sy redding te gee! Of dit nou groot of klein is, hy het ‘n deel! Terwyl die Bybel sê: uit genade is julle gered en dit nie uit julleself nie! Redding is God se werk van A-Z. Hoor hoe verwoord Rom.8:29-30 dit: 29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.
Die mens is dood, … mórsdood in die sonde. Totaal verlore in sonde. God die Vader in sy Soewereiniteit, red die wat Hy uitgekies het uit hul sonde, uit hierdie morsdoodsheid uit, … ter wille van sy éie eer! Christus die Messias kom op die regte tyd en wees ‘n plaasvervanger vir elkeen wat Hy uitgekies het. Uiteindelik kom die HG wend die genade onweerstaanbaar toe om ‘n volkome en volmaakte redding te bewerk!
Gebed: Hemelse Vader, lei ons asseblief Vader om saam met die Psalmdigter te bid: Leer my, HEER, u regte weë, wys die régte pad my aan; maak my hart daartoe geneë, om met lus daarop te gaan. Wil my deur u waarheid leer, lei my dwalende gedagte; want U is my heil, o HEER! U is ek altyd te wagte. AMEN
Dr Gideon Grobler
