Janusz Walus, die veroordeelde moordenaar van die Suid-Afrikaanse struggle-held Chris Hani, word vandag na Pole gedeporteer.
Walus is ter dood veroordeel vir Hani se moord. Dit is egter tot lewenslange tronkstraf omgeskakel. Verskeie aansoeke om parool deur Walus is sedertdien konsekwent tot sy mees onlangse aansoek geweier.
“Op 21 November 2022 het die Konstitusionele Hof beveel dat Junusz Walus binne 10 dae vanaf die datum van die bevel op parool geplaas word, in ooreenstemming met toepaslike wetgewing. Destyds was die toepaslike parooltydperk twee jaar. Walus is daarna op 7 Desember 2022 op parool geplaas, onderhewig aan paroolvoorwaardes.
“Vandag, 6 Desember 2024, het die parooltydperk van Walus tot ‘n einde gekom, in ooreenstemming met die konstitusionele hofbeslissing. Aangesien Walus nie meer enige Suid-Afrikaanse bemagtigingsdokumente het nie, sal die departement van binnelandse sake hom deporteer,” het Ntshavheni verduidelik.
Die Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste sal Walus formeel aan die departement van binnelandse sake oorhandig vir deportasie.
Ntshavheni het gesê ‘n afvaardiging van hooggeplaaste regeringsleiers het die Hani-familie besoek om die nuus van Walus se deportasie te lewer.
“Ter voorbereiding vir hierdie deportasie het die Kabinet die taak aan Adjunkpresident, Paul Mashatile, Minister in die Presidensie Khumbudzo Ntshavheni, Minister van Justisie Mmamoloko Kubayi en Minister van Binnelandse Sake, Dr. Leon Schreiber, opgedra om die familie van wyle Hani te besoek om hulle in te lig van hierdie ontwikkelings.
“Tydens hierdie byeenkoms het die regeringsafvaardiging ‘n versoek vir ‘n geregtelike doodsondersoek van Hani se vrou en die SAKP ontvang. Die versoek sal na die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling verwys word,” het Ntshavheni gesê.
