Twee Nederlandse toeriste is Maandag net na 15:00, terwyl hulle van Jeffreysbaai na Addo op die R335 onderweg was, ontvoer en beroof.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê aan Nuusflits die paar is deur ‘n voertuig met ses mans gestop. Die ruit aan die bestuurderskant van die voertuig is uitgeslaan en die toeriste is uit die voertuig gedwing en in ‘n ander voertuig inforseer.
Bankaarte en selfone is deur die verdagtes geëis. Die toeriste is forseer om limiete op hulle bankrekenings te verhoog, waarna ‘n onbekende bedrag geld by verskillende banke uit hulle rekeninge onttrek is. Na die onttrekkings is hulle beveel om hulle koppe met ‘n kombers toe te maak en vyf minute te wag voordat hulle kon ry. Hulle het direk na Kariega-polisiestasie gery om die roof aan te meld.
Swartkops-polisie ondersoek ‘n saak van kaping en ontvoering.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om speur. adjudant-offisier Leonard by 082 847 4756 te bel.
