R100 miljoen dwelmlaboratorium in Pretoria gevind

Die polisie het verskeie chemikalieë, dwelmvervaardigings-toerusting en ‘n aansienlike hoeveelheid metamfetamien gevind toe hulle op ‘n dwelmlaboratorium toegeslaan het.

’n Groot dwelmvoorval het gister in Rietfontein buite Erasmia in Tshwane ontvou toe die polisie ’n 39-jarige Mexikaanse onwettige immigrant aangekeer en ’n dwelmlaboratorium van R100 miljoen afgebreek het.

Luitenant-kolonel Amanda van Wyk, Gautengse polisiewoordvoerder, sê ‘n multidissiplinêre span het ná ‘n uitgebreide ondersoek op die eiendom toegeslaan met ‘n deursoek-en-beslagleggingslasbrief.

“’n Intelligensie-gedrewe operasie het daartoe gelei dat die polisie hierdie dwelmlaboratorium met ’n geraamde waarde van R100 miljoen ontbloot en afgebreek het en ’n 39-jarige Mexikaan in hegtenis geneem het.”

Obervasie het vir vier dae plaasgevind, waartydens beweging op die perseel gemoniteer is.

Van Wyk sê ‘n multidissiplinêre span bestaande uit die Nasionale en Provinsiale Georganiseerde Misdaadondersoeke (narkotiese eenhede), Nasionale Teennarkotika, Diepsloot en Westrand Taktiese Reaksiespanne en Wes-Rand K9-eenheid, het ‘n deursoek-en-beslagleggingslasbrief bekom.

Sy sê die klopjag het gelei tot die konfiskering van verskeie chemikalieë, dwelmvervaardigingstoerusting en ‘n aansienlike hoeveelheid metamfetamien, algemeen bekend as crystal meth of Tik.

“Die span het ook beslag gelê op kontant wat vermoedelik opbrengs uit die onwettige dwelmhandel is,” sê Van Wyk.

Sy voeg by dat die verdagte na verwagting in die Atteridgeville-landdroshof sal verskyn op aanklagte van handel in en vervaardiging van dwelms, asook vir oortreding van die Immigrasiewet 13 van 2002.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui