Skrifgedeelte: Rom. 9:11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep. …..18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. (lees gerus die tussenin verse ook)
Oordenking: Geagte leser, uit die kerkgeskiedenis, maar in besonder ook deur die werk van Prof. Kobus Pienaar oor die Waldense en hoe die Reformasie daarby aansluit, kan ons met sekerheid sê dat dít die Skrif verstaan was wat Jan Van Riebeeck hier in donker Afrika kom plant het. So het dit ook die basis gevorm waarmee die trekkers die binneland in is en uiteindelik die Skrif verstaan waarmee die trekkers gewerk het tydens die Gelofte.
Hierdie Skrif verstaan is deur die Reformasie leiers in vyf punte saamgevat. Die eerste daarvan is waaroor die vorige oordenking gehandel het, nl. Dat die mens in totaliteit verlore gegaan het met die sondeval. Daar het niks goeds oorgebly aan die mens op grond waarvan hy vir die goeie sou kon kies nie! (Psalm 14:53 en Rom. 3)
Die tweede punt handel oor die uitverkiesing. Die uitverkiesing is een van die mees basiese leerstellings van die geloof waarin ons volksplanting plaas gevind het, maar te gelyker tyd ook waarskynlik die mees kontroversiële.
Om ons verstaan daarvan, te kan opweeg teen die ander, is dit belangrik dat ons net eers na ‘n kort samevatting luister van hoe Calvyn dit beskryf het nie, maar veral om dit aan die Skrif te toets..
God se keuse van sekere individue tot redding, voor die grondlegging van die wêreld (Ef.1:4&5) het uitsluitlik op sy soewereine wil berus. Sy keuse van sekere sondaars was nie gebaseer op enige, voorúit gesiene reaksie of gehoorsaamheid van die mens se kant af nie. Inteendeel, God géé geloof en bekering aan elke individu wat Hy uitverkies het. Hierdie dade (geloof en bekering) is die gevolge van die uitverkiesing, nie die oorsaak van God se keuse nie. Verkiesing is dus nie bepaal of beïnvloed deur enige deugsame kwaliteit of handeling wat in die mens voorsien is nie. Diegene wat God soewerein verkies het, bring Hy deur die krag van Sy Gees tot ‘n gewillige aanvaarding van Christus. Dus is die uiteindelike oorsaak van redding, God se keuse van die sondaar, nie die sondaars se keuse van Christus nie.
Daar is in die besonder twee sake wat ons hieroor moet beklemtoon.
1. God het nie die mense wat hy gekies het, lukraak gekies, of op enige wyse onregverdig opgetree nie.
God het die volste reg om alle mense hel toe te stuur. Kom ons sê dit anders: Eerder as om arrogant te vra: “Waarom het God net sekeres gekies”, moet ons eerder vra: “Waarom het Hy énige gekies”!
Ons het in die vorige oordenking gesien dat alle mense totaal verlore is. Daar het niks goed in hulle agter gebly nie. Toe God dus gekies het, het Hy nie na ‘n massa mense gekyk en die beter es uitgekies nie, nee, Hy het na ‘n hoop dooie, verrotte lyke gekyk en van hulle het Hy besluit om te gebruik! (Joh.15:16)
Dié wat Hy gekies het, het genade en barmhartigheid gekry, die wat Hy nié gekies het nie, het gekry wat hulle verdien het.
2. Dit bring ons by die tweede punt wat beklemtoon moet word. Die wat gekies is het niks om op trots te wees of self tevrede te wees nie, hulle het net soveel die verdoemenis verdien, maar het genade gekry!
God se verkiesing was deur sy soewereine wil gedoen. Hy bly ewig in beheer van Sy skeppings werk, Hy laat dit nooit aan ‘n mens oor nie!
Dit is net hier waar die mense trots vassteek. Die a.g.v. sonde, self voldane mens wil hierdie feit nie glo nie, want dit laat vir die mens geen ruimte om op te roem nie! Die mens wil met sy sonde belaaide verstand ‘n aandeel aan die saak hê!
Daarom verwerp die massa mense die leer van die soewereine uitverkiesing en gryp na die leer van die Armenianiste wat die soewereiniteit in die mens se hand plaas. Arminius (en sy aanhangers) sit die beheer oor wie gered word in die mens se hand sodat hy ‘n sê kan hê.
Arminius sê : Ja God het gekies, maar omdat God alwetend is het Hy vooruit geweet wie uit eie vrye wil hulle gaan bekeer en tot geloof kom, en toe het Hy hulle gekies. U sien duidelik dat die bal deur hulle leer, uit God se hand, uit sy beheer geneem word, en vir die mens gegee word.
Dit broeders en suster is die grond verskil tussen, wat vroeër gesê kon word, die Gereformeerde leer en die Charismatiese of Pinkster leer. Hierdie lyn is egter nie meer só duidelik nie en is dit dalk meer korrek om van die moderne kerk en die suiwere Gereformeerde leer (soos tydens ons volksplanting) te praat. Wanneer ek hierdie lyne trek, is dit hoegenaamd nie veroordelend nie, maar eerder ‘n tragiese misverstand!
Kom ons hoor weer wat Paulus geskryf het: 11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep 12 is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. 13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.
Kan u die volledige beheer van God hoor? Hoor hoe klink dit in Psalm 14. 2 Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.(dus vir God kies) 3 Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.
God se uitverkiesing is die absolute oorsaak van redding! Die effektiewe plaasvervangende versoening van Christus is die gronde van verlossing!
Omdat ek gekies is, omdat my naam in die boek van die lewe staan is die oorsaak hoekom ek gered is. Die feit dat Christus in my plek my sonde kom betaal het en ek dit glo, dat ek deur die Heilige Gees gemáák is dit glo, is die gronde van die versoening. God het gekies wie gered moet word, toe kom die Seun en maak dit deur Sy sterwe, opstanding en hemelkaart moontlik dat hulle gered kan word en die HG maak my dit glo!
Gebed: O Vader in die hemel Hoog tot wie ons ophef hart en oog, ons dank U uit die diepste kamers van ons harte vir u genade! AMEN
Ds Gideon Grobler
